Ek vang myself gedurig dat ek wonder of die wêreld stapelgek geraak het.
Soos in absoluut… hierdie is ‘n gesinspublikasie en daarom moet ek versigtig wees hoe ek my uitdruk. Maar ek kan deesdae nie meer onderskei wat komedie of wat realiteit is nie. Veral nou dat dit open season vir politiekery is, met die plaaslike verkiesing op die horison.
Helen Zille
Kom ek gee ‘n paar voorbeelde. Die burgemeesterskandidaat vir Johannesburg, Helen Zille, gaan snorkel in ‘n slaggat in ‘n straat. Volgens die inwoners is die gat jare reeds daar. Nou my vraag is, word ons nie op laerskool reeds geleer stilstaande water is gevaarlik nie?
Maar dis die opvolgstorie wat my laat kopkrap. Die Johannesburgse munisipaliteit reageer op ‘n “dringende basis” om die gat te fix. In Suid-Afrika is drie jaar dalk spoedig, veral as jy in ag neem dat sommige regeringsprojekte nooit klaar gemaak word nie. Of as dit voltooi word is dit miljarde oor begroting.
‘n Sprekende voorbeeld hiervan is die herbouing van die parlement, wat ‘n paar jaar gelede tot op die grond afgebrand het. Die parlement is die hoogste wetgewende liggaam in meeste demokratiese lande. In ander woorde, wette word daar gemaak, wat dan deur die samelewing gehoorsaam moet word. Dus, as jy nou soos ek reken jy is ‘n normale mens, sal jy dit nie waag om geld wat vir hierdie liggaam se herbouing gebruik moet word te verduister nie.
Hou my bier, sê die mense wat daarmee vertrou word om die hart van ons demokrasie te herbou. Daar word berig dat die projek, wat reeds vier jaar sloer, se begroting reeds van die aanvanklike R2,1 miljard tot R4,6 miljard gegroei het. Nou wat is van die uitgawes wat tot hierdie styging lei?
Na bewering is daar R86 849 vir grondboontjiebotter betaal en R80 000 elk op vissmeer en vlapoeier. Gelukkig was die gedroogde bone glo slegs R30 000 werd.
Ek het soveel vrae. Meng jy die grondboontjiebotter, vissmeer en vlapoeier saam om ‘n tipe sement te vorm waarmee jy dan die bakstene aan mekaar vassit?
Op ‘n ernstige noot, waddehel?! Maak nie saak hoe jy dit aan my verduidelik nie, daar is geen manier dat ek sal glo enige van hierdie produkte is noodsaaklik om enige gebou, wat nog te sê die parlement, te herbou nie.
Al woord wat by my opkom is die vermetelheid. “The audacity,” sal die Engelsman verklaar, om die plek te besteel waar die wette gemaak word. Is dit normaal? Gebeur dit in ander lande ook?
Beslis, veral in Donald Trump se Amerika. Trump plaas ‘n Kunsmatige Intelligensie-prentjie, wat hom as Jesus uitbeeld op X. Dit te midde van ‘n oorlog wat hy begin het, gespog het dit sal gou verby wees en nou weet hy nie hoe om homself daaruit te wurm nie. Hy spog hy het die Straat van Hormoes oopgemaak, maar dit was oop voordat die oorlog begin het.
Die Bybel
Intussen lees sy oorlogsminister glo ‘n vers uit die Bybel, maar dit is eintlik ‘n opgemaakte vers uit ‘n fliek. En die hoof van die FBI is so dronk dat hy sy password vir sy rekenaar vergeet en daarom dink hy is uit sy diens ontslaan. Asof dit nie genoeg is nie, ondersoek die Amerikaanse regering die dood of verdwyning van 11 wetenskaplikes wat aan hoogsgeheime projekte, waaronder projekte oor buiteruimtelike wesens, werk.
As dit nou is dat daardie mense deur aliens gegaps is, wil ek die aliens nooi om ‘n paar Suid-Afrikaners ook te kom haal. Vir padkos is daar grondboontjiebotter, vissmeer, vlapoeier en gedroogte bone.
READ ALSO: WAT DIE HART VAN VOL IS | Ek ‘like’ my job





