Universiteit Stellenbosch Botaniese Tuin kry eerste vroue-kurator

Annerie Senekal
Annerie Senekal is die nuwe kurator van die Universiteit Stellenbosch Botaniese Tuin.

Universiteit Stellenbosch Botaniese Tuin kry eerste vroue-kurator


Annerie Senekal is die eerste vroulike kurator van die Universiteit Stellenbosch Botaniese Tuin (USBT).

Sy het Woensdag 1 Julie amptelik haar nuwe rol opgeneem, ‘n pos wat sy in baie opsigte reeds die afgelope nege maande beklee het.

Die USBT is veel meer as net ‘n versameling mooi plante en blomme; elke versameling, inligtingsbord en sorgvuldig geplaaste plantspesie vertel ‘n verhaal van bewaring, navorsing en opvoeding.

Ná die skielike dood van die voormalige kurator dr. Donovan Kirkwood verlede jaar het Senekal gedurende ‘n tydperk van onsekerheid en oorgang die leisels as waarnemende kurator geneem.

Benewens haar bestaande verantwoordelikhede as assistent-kurator het sy ook die daaglikse bestuur, ondersteuning van personeel, bestuur van versamelings en die voortgesette besoekerservaring behartig.

LEES OOK: Botaniese tuin-kurator sterf op Jonkershoek

Stellenbosch University Botanical Garden
Nuut-aangestelde kurator van die SUBT Annerie Senekal (regs voor) met (van links) botaniese kunsdoyenne Vicki Thomas, kuns-kurator Karen Stewart, Shirley Sherwood en plantkundige Léanne Dreyer by die SUBT.

Hoogtepunt van reis

Hierdie oorgang was nie sonder uitdagings nie. “Die grootste uitdaging was om die verlies van dr. Kirkwood te verwerk,” bieg Senekal.

“Benewens die verlies van ‘n gerespekteerde leier, het ek ‘n mentor verloor wat ‘n bepalende rol gespeel het in die vorming van my passie vir plantbewaring en my begrip van die belangrike rol wat botaniese tuine in bewaring en die samelewing speel.”

Nou is haar aanstelling as kurator amptelik. Sy meen haar aanstelling is die hoogtepunt van ‘n reis wat ver van Stellenbosch begin het.

Senekal het in Thabazimbi, Limpopo, aan die voet van die Waterberge, grootgeword in ‘n huishouding waar die natuur deel van die alledaagse lewe was. Met ‘n biologie-onderwyseres as ma en ‘n pa wat met wild werk, het haar waardering vir die natuur vroeg ontwikkel.

Maar plante was nie haar eerste akademiese belangstelling nie; Senekal het aanvanklik musiek studeer voordat sy ‘n BSc-graad in Biodiversiteit en Ekologie by die US se departement plant- en dierkunde voltooi het.

“Tydens my voorgraadse studies het ek verlief geraak op die wêreld van plante, en ná my studies was ek bevoorreg om as intern by die USBT aan te sluit.”

Aanstelling ‘n mylpaal

Senekal is in 2023 as assistent-kurator aangestel en het sedertdien tot verskeie belangrike inisiatiewe bygedra, insluitend die ontwikkeling van ‘n unieke uitstalling van bedreigde habitatte, die vestiging van satellietversamelings ter ondersteuning van plantbewaring en die uitbreiding van ‘n wêreldklas botaniese kunsversameling wat bedreigde spesies dokumenteer.

“Dit is ‘n voorreg om deel te word van die groep kurators wat hierdie historiese tuin help vorm het,” sê sy.

“Ek is al baie jare passievol oor die werk van die USBT en is dankbaar vir die geleentheid om voort te bou op daardie nalatenskap en die tuin se impak verder uit te brei.”

As die eerste vrou in om hierdie pos te beklee, verteenwoordig haar aanstelling ook ‘n belangrike mylpaal vir die instelling.

“Dit is ‘n eer om deel van die tuin se geskiedenis te wees, maar ek hoop ons bereik ‘n punt waar aanstellings soos hierdie nie meer as mylpale beskou word nie.

“Ek hoop dit sal mettertyd heeltemal alledaags wees dat ‘n kurator ‘n vrou, iemand van kleur, of enigiemand uit ‘n histories onderverteenwoordigde agtergrond kan wees.”

Haar fokus is stewig gevestig op die versterking van die USBT se rol as sentrum vir bewaring, navorsing en opvoeding.

LEES OOK: US Botaniese Tuin bied flora fees as deel van eeufeesviering aan

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article