Vir die Paarlse sangeres en liedjieskrywer Tamryn Madalé (33) word ‘n groot droom op Vrydag 6 November bewaarheid wanneer sy saam met Francois van Coke op die verhoog staan tydens Alles van my, die bekendstellingsvertoning van haar nuwe liedjie, “EG”, by die Daisy Jones-teater buite Stellenbosch.
“Om saam met Francois van Coke op te tree, is een van my crazy drome. Nou word dit binnekort ‘n werklikheid,” sê Tamryn.
Vir haar is Alles van my meer as net ‘n vertoning. Dit is ‘n geleentheid om haarself sonder voorgee met die gehoor te deel.
“Daar is soveel meer aan my as wat die oog kan sien. Met hierdie album word baie meer van wie ek werklik is, ontbloot. Soos Francois sê: ‘Geen pretensie; geen beheer’.”
Sy bewonder die eerlikheid waarmee hy emosies en lewenswaarhede in liedjies soos “Die wêreld is mal” en “Beter mens” verwoord.
LEES OOK: Gesogte pryse vir vier talentvolle kunstenaars van ATKV-Crescendo
Musikale invloede
Francois sê hy het die eerste keer van Tamryn kennis geneem toe hy ‘n video gesien het waarin sy die magiese lied “Vier-seisoene-kind” saam met Whaden Johannes gesing het.
“Ek het dadelik baie daarvan gehou. Toe sy my vra om saam met haar op te tree, het ek gedink dit sal lekker wees om iets saam te doen. Ek hou daarvan om met jong kunstenaars te werk – nie net oor die musiek nie, maar ook om hulle as mense te leer ken, te sien hoe hulle werk en hoe hulle dink. Ek sien baie uit daarna om saam met haar op die verhoog te wees.”
Die vertoning volg kort op die vrystelling van Tamryn se nuwe enkelsnit, “Alles gaan okay wees”, in Oktober. Die lied is geïnspireer deur die bekende trooswoorde wat mense in moeilike tye vir mekaar sê.
Haar nuwe liedjie bring haar uiteenlopende musikale invloede bymekaar.
Die gemene deler bly eerlike lirieke, herkenbare emosies en stories wat uit die hart kom. Die sielvolle Tamryn glo musiek is ‘n universele taal en sy hoop luisteraars van verskillende ouderdomme en agtergronde sal iets van hulself in haar liedjies herken.
Haar betrokkenheid by ATKV-Crescendo het reeds besondere verhooggeleenthede meegebring. Sy het saam met Craig Lucas en Petronel Baard tydens Crescendo GOUD se Divas van Afrikaans opgetree en was ook deel van die KKNK se ATKV/RSG- Kuierkol in Oudtshoorn.
Sy werk saam met die fotograaf Luwadlin Bosman aan verrassings wat met die bekendstelling onthul sal word. Hoewel sy binnekort die verhoog met Francois deel, het sy nog ‘n droom op haar lys – om eendag saam met hom ‘n lied op te neem.
- Die vertoning begin om 19:00. Deure open om 17:30. Kaartjies is beskikbaar via Quicket.
LEES OOK: Crescendo-divas kom sing by Daisy Jones-teater op Stellenbosch





