Stem vir Matie se top-10-liedjie in FAK se Skryf’it-kompetisie

Lienke Viljoen
Die Matie en top-10-finalis van die FAK-Skryf’it 2026-kompetisie, Lienke Viljoen.

Stem vir Matie se top-10-liedjie in FAK se Skryf’it-kompetisie


Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Skryf’it-kompetisie staan nou einde se kant toe en ‘n Stellenbosser hoop haar liedjie sal die een wees om die groot prys te wen.

Lienke Viljoen se liedjie “Straatligte” is ‘n oorspronklike verwerking.

Sy is een van vier Wes-Kaapse inskrywings wat dit deur vyf stemrondes gemaak het om ‘n plek in die eindronde te bekom.

Elke skrywer het ‘n ghoeroe. Diegene wat die liedjieskrywers help, is die bekende Afrikaanse musiekpersoonlikhede Andriëtte Norman, William Wolf, Danie Reënwolf du Toit van Spoegwolf, John-Henry Opperman van Klopjag-faam en Ampie. Lienke se gehoeroe is William Wolf.

Leef haar kreatief uit

Die kompetisie het stemming deur die publiek gebruik om die beste oorspronklike en beste KI-gesteunde liedjie van elke ghoeroe se vier gekose inskrywings te bepaal.

Lienke is oorspronklik van Middelburg in die Oos-Kaap waar sy haar hoërskoolloopbaan deur tuisonderrig voltooi het. Deesdae is sy in die Eikestad om haar studies in sportwetekenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US) te voltooi.

Lienkie het altyd van musiek gehou en die skryf van liedjies was ‘n manier om haar kreatief uit te leef.

“Ek het nog altyd daarvan gehou om liedjies vir mense te skryf. Of dit nou was om hulle te vermaak of om iets vir hulle te beteken, was dit vir my ‘n heerlike manier om myself kreatief uit te druk en met musikale ‘verf’ rond te speel,” verduidelik sy.

Waar woorde faal, is daar musiek

Vir die student is musiek ‘n manier om haar uit te druk wanneer woorde soms faal. Daarom was haar deelname aan die FAK-Skryf’it-kompetisie ‘n gulde geleentheid om haar passie uit te leef.

“Dit is ‘n fantastiese geleentheid om dít wat ek deur my liedjies wil sê daar buite te sit. Die platform gee my die kans om my woorde, my wysies en my hart te deel met mense wat dit andersins waarskynlik nooit sou kon hoor nie.”

Die FAK-Skryf’it 2026-kompetisie is ‘n monument van kreatiwiteit, kultuur en taal. Vir die FAK is dit ‘n platform waar nuwe stemme in die Afrikaanse musiekwêreld opstaan – jong, vars liriekskrywers en melodiebouers wat Afrikaans met vuur en waarheid laat sing.

Die publiek kan nou vir hul gunsteling-liedjie stem en indien “Straatligte” wen, sal Lienke se liedjie opgeneem en vrygestel word.

“Dit voel nog so ‘n klein bietjie onwerklik dat dit selfs moontlik is vir my liedjie om opgeneem te word. Dit sal kleintyd-Lienke én vandag se Lienke uit haar vel uit laat spring van blydskap! Dit is reeds vir my ‘n groot voorreg om net die top-10 te kon haal. Dit gee ‘n mens ‘n hupstoot in selfvertroue om te weet dat dit nie net familie en vriende, wat dalk ‘n bietjie bevooroordeeld is oor jou liedjieskryfvermoëns, is wat in jou musiek glo nie,” sê sy.

Lê vrees opsy, vat ‘n kans

“Dit laat my besef dat wat ek doen dalk iets vir ‘n wyer kring mense kan beteken. As my liedjie eers oor die radio speel, sal dit vir seker ‘n groot ‘knyp my’-oomblik wees, net om seker te maak ek droom nie. Om iets wat ek self geskryf het oor die radio te hoor, sal ‘n groot droom wees wat waar word.”

Lienke se raad aan voornemende liedjieskrywers is om te dink aan wat jy sê want dit kan iemand se lewe verander.

“Dit is seker waar vir meer as net liedjieskrywers, maar moenie dat vrees jou keer om jou drome na te jaag nie. Dit is dikwels juis in die oomblikke wanneer jy deur jou grootste vrese in die gesig gestaar word wat jy jou grootste deurbrake kry. Dit is dalk presies wat iemand vandag nodig het. Jaag volspoed agter jou drome aan en vat ‘n kans. As jy ‘n spoedhobbeltjie tref, is dit is dalk net wat jy nodig het om aan die sterre te kan raak.”

  • Besoek skryf’it.co.za om vir jou gunsteling-liedjie te stem om die topvyf te bereik.
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article