Landlords of Stellenbosch
Die groep Landlords of Stellenbosch – Accredited Providers of Student Accommodation, sê hulle verwag net die huurgeld wat hulle toekom. Foto: Yaël Malgas

Verhuurders wat studente van die Universiteit Stellenbosch (US) huisves, het die afgelope Donderdag (2 April) ‘n versoekskrif oor agterstallige huur aan die universiteit oorhandig.

Die groep, Landlords of Stellenbosch – Accredited Providers of Student Accommodation, sê hulle het ‘n goeie verhouding met dié tersiêre instelling en vervul ‘n belangrike rol in die universiteitsgemeenskap. Hulle het egter antwoorde geëis oor hoekom hulle nie die afgelope twee maande betaal is nie.

“Ek het nou meer uitgawes as wat ek gehad het toe dit slegs ek en my man in die huis was,” verduidelik die pensioentrekker Rachel Davids.

Sy is een van vele bejaardes wat kamers aan studente verhuur en sê sy is aangeraai om studente in te neem as ‘n manier om haar pensioen aan te vul.

Nog ‘n verhuurder neem jaarliks nege studente in en sê die studente gebruik water, elektrisiteit en die internet, maar sonder die huurgeld raak sy agter met haar finansiële verpligtinge.

Landlords of Stellenbosch
Rasaad Cupido, voorsitter van die Landlords of Stellenbosch – Accredited Providers of Student Accommodation, lees die versoekskrif wat die groep Donderdag (2 April) aan die Universiteit Stellenbosch (US) oorhandig het. Foto: Yaël Malgas

Huiseienaars het twee opsies om hul huurgeld in te vorder – hulle kan of huurgeld direk van die studente ontvang, of in gevalle waar hulle blyplek aan vyf of meer studente bied, kan hulle aansoek doen om huurgeld direk van die US te ontvang. Dit moet deur die betrokke studente goedgekeur word.

Rashaad Cupido, die voorsitter van die verhuurdersorganisasie, sê vir vele Idasvallei-verhuurders is die huurgeld hul hoofbron van inkomste.

“Een van ons lede het gesê sy het ‘n elektristeitsrekening van R17 000 wat sy nie kan betaal nie. Om as ‘n geakkrediteerde verhuurder te kwalifiseer, is ‘n lywige proses met baie voorwaardes. Ons verskaf met graagte verblyf aan studente, maar verwag om betaling tydig te ontvang.”

Vir vele universiteitstudente is private verhuurders die beste opsie aangesien ander studenteverblyf in Idasvallei meer as R6 000 per maand beloop. Die groep verhuurders huisves jaarliks sowat 5 000 studente. Die groep voer aan die US het versuim om die twee partye se ooreenkoms in goeder trou na te kom. Twee jaar gelede is huurgeld vir Februarie en Maart teen die einde van Februarie betaal. Die verhuurders sê dit het nie vanjaar gebeur nie, wat tot finansiële druk lei.

Die akkreditasieproses begin die vorige jaar en geld gewoonlik totdat die nuwe akademiese jaar begin. Dit gee die US genoeg tyd om die verhuurders en hul eiendom na te gaan, die huurooreenkomste te bekragtig en om probleme met betalings te ondersoek.

Die US het by navraag gesê hy praat met die verhuurders en waardeer hul geduld.

“Die universiteit erken en waardeer die verhuurders se geduld en voortgesette kommunikasie met die universiteit oor die saak,” het Martin Viljoen, ‘n US-woordvoerder, verduidelik.

“Benewens sommige uitstaande betalings vir April, is die betalings nou op datum. Uitstaande betalings kry voorkeur.”

Viljoen het bygevoeg die verwerking van betalings word deur verskeie faktore beïnvloed, en sluit betalings deur Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS), registrasie as US-diensverskaffers en NSFAS-studente wat nog nie hul huisvestingsreëlings korrek geregistreer het nie, in. Die US het die betrokke studente versoek om dit onmiddellik reg te stel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article