Stellenbosch het ‘n behuisingsprobleem en niemand weet dit beter as die gesinne wat verlede Woensdag (18 Maart) sonder heenkome gelaat is nie.
Vier gesinne is verlede week deur die balju uit die huur-woonstelle gesit waar hulle reeds jare lank gewoon het.
Die wettige uitsetting het die Stellenbosch-munisipaliteit genoodsaak om alternatiewe blyplek aan die gesinne te verskaf, maar teen verlede Woensdagaand was twee gesinne steeds sonder heenkome.
“Ons het geweet die uitsetting kom, maar daar was ‘n rede dat ons dit deurgesien het tot met die uitsetting deur die balju,” verduidelik Leticia February.
Sy en haar gesin van vier was een van dié wat jare lank in die woonstelle in Rus- tenburgweg, Idasvallei gewoon het. Die wettige uitsetting het gevolg nadat sy en haar bure nie hul huur betaal het nie.
February sê sy is vir die afgelope twee jaar werkloos, terwyl Jakobus “Kobie” Andreas sê hy het tydens die Covid-grendeltyd agter geraak met sy huur. Hoewel Andreas intussen weer begin werk het, wou die eienaars glo nie ‘n reëling aangaan wat die agterstallige huur betref het nie. Die uitsettingsproses is toe reeds van stapel gestuur.
Tydens die uitsetting was die Stellenbosch-burgemeester, Jeremy Fasser, byderhand. In ‘n kort video wat op die munisipaliteit se sosialemediablad geplaas is, verduidelik Fasser dat “in ooreenstemming met die hofbevel moet die munisipaliteit nou intree en alternatiewe akkommodasie identifiseer”. Volgens Fasser was spanne dieselfde dag “hard besig” om akkommodasie vir die gesinne te vind.
Aanvanklik was die plan om die inwoners in Wendyhuise in Idasvallei op ‘n oop stuk grond te huisves, maar inwoners in Kreefgat het dié planne in die wiele gery.
‘Wie sal werkloses huisves?’
“[Fasser] neem ons toe na Newmanstraat en wys toe vir ons die grond uit, ‘n driehoek van die erf, waar hy al drie Wendy- huise wou inprop,” verduidelik February.
Aanvanklik is die gesinne glo deur die munisipaliteit gevra om self oop erwe te identifiseer waar hulle die tydelike behuising kon oprig. February sê sy het verskeie erwe uitgewys, maar geen is gekies nie.
“[Die munisipaliteit] het reeds ‘n jaar gelede geweet van die uitsetting. Ons is sedert Februarie 2025 in kontak met die munisipaliteit hieroor. Ons het geweet indien ons vrylik uittrek, sou niemand vir ons blyplek gee nie. Wie gaan vir my plek gee wanneer ek werkloos is? Ek kan nie verwag dat iemand my gratis op hul erf sal laat bly nie, want ek dra nie by tot die huishouding nie,” verduidelik February.
Volgens die Stellenbosch-munisipaliteit het hy ingegryp toe hy van die gesinne se lot hoor. Stuart Grobbelaar, ‘n munisipale woordvoerder, het bevestig terreinbesoeke is gedoen vir die opslaan vir alternatiewe behuising en beamptes het met die huurders vergader.
“Dit is belangrik om daarop te let dat hierdie situasie ontstaan het uit ‘n private dispuut tussen ‘n eiendomseienaar en inwoners van private huise. Die hofbevel het egter uitdruklik vereis dat die munisipaliteit alternatiewe akkommodasie moet verskaf. Gevolglik was die munisipaliteit verplig om binne die wetlike raamwerk en in volle ooreenstemming met die wet op te tree om geskikte behuising vir die betrokke gesin te verseker,” sê Grobbelaar.
‘Munisipaliteit faal huisloses’
Verlede Woensdagaand was daar egter geen geskikte behuising nie.
Andreas sê nadat die burgemeester ‘n gemeenskapsvergadering gehou het, wat die huurders nie bygewoon het nie, het hulle gehoor hulle sal na die Mountain Breeze-oord gaan. Hierdie plan is ook gefnuik, dié keer deur boere wat onder die indruk was dat die grond ontwettig beset sou word.
“[Munisipale beamptes] het toe laat weet hulle kan nie by die hekke in nie, maar die burgemeester en sy trawante is daar weg en het gesê alles is gereël. Ek sit toe daar alleen-alleen langs die pad met al my besitting op die trok,” vertel February.
Ná die uitsetting kon sy tydelike plek vir haar gesinslede by vriende en familie kry.
Nadat February en die Andreas-gesin nie by die oord kon in nie, het een van die boere besluit om hulle vir die aand in die Lord Charles-hotel in Somerset-Wes te laat oornag, op sy onkoste.
Verlede Donderdagaand was daar steeds geen blyplek vir die gesinne nie. Twee van hulle is na vriende en familie, terwyl February en die Andreas-gesin meegedeel is indien niemand hulle kan inneem nie, hulle in die Stellenbosch-nagskuiling moet slaap.
Andreas, wat twee peuters het, het die aanbod van die hand gewys. February het gesê sy was nie bereid om met haar besitting na die nagskuiling te gaan nie.
Die res van die gesinne se eiendom was verlede Donderdag steeds op munisipale trokke wat by ‘n depot geparkeer is. Die derde gesin se besittings is tydelik in ‘n leë huis by die plaaslike brandweerstasie.
February het Woensdag (25 Maart) aan Eikestadnuus gesê sy is tans in Franschhoek, die Andreas-gesin in die Voortrekker-saal en die res van haar bure by familie. Sy sê die munisipaliteit het gefaal in sy mandaat om noodbehuising te verskaf en sy is bereid om die saak na die Menseregtekommissie te neem.





