Hoewel dit bekend is dat sosiale media mense se geestesgesondheid beïnvloed, beskik ons nie oor ‘n duidelike raamwerk om te bepaal of depressie-verwante simptome deur aanlyn netwerke versprei of hoe om hierdie proses te meet en na te spoor nie.
Dr. Kurt Marais, ‘n dosent in die departement logistiek aan die Universiteit Stellenbosch (US) wat sy doktorsgraad in bedryfsnavorsing onlangs aan die US verwerf het, het ondersoek ingestel na hoe die gevoel van emosionele inhoud deur sosiale media versprei en maniere verken om die uitwerking daarvan op gebruikers se geestesgesondheid te meet. Hy het spesifiek op depressie gefokus.
Marais het plasings van ‘n depressie-gefokusde “subreddit” op Reddit ontleed om gemeenskaplike woorde, frases en patrone te identifiseer.
‘n Subreddit is ‘n aanlyn besprekingsgroep of forum op Reddit waarin gebruikers plasings oor ‘n spesifieke onderwerp doen en daarop kommentaar lewer.
Hy het ‘n depressie-spesifieke gevoelsleksikon ontwikkel (‘n gestruktureerde lys woorde wat gebruik word om depressiewe emosionele stemming in teks te meet), wat depressie-verwante taalgebruik akkuraat vergeleke met algemene hulpmiddels kan opspoor.

‘Ek’ meeste gebruik
Marais het 12 133 unieke plasings oor 56 dae versamel. Die gemiddelde plasing was 178 woorde lank en die langste was 5 192 woorde.
Hy het opgemerk dat mense van verskillende ouderdomme, gewoontes en lande in hierdie gemeenskap byeenkom om ervarings te deel en ondersteuning te bied en te ontvang. Die meeste van die plasings was van die VSA, die Verenigde Koninkryk, Kanada, Indië en Duitsland.
Marais sê die woorde wat die meeste in hierdie plasings gebruik is, is “hou van”, “voel”, “lewe” en “wil hê”.
“Mense het dikwels geskryf oor hoe hulle voel en oor hul begeerte om iets anders as depressie te ervaar. Dit word weerspieël in die gereelde gebruik van eerstepersoon-stopwoorde soos ‘ek’, ‘is’ en ‘my’. Woorde soos ‘gevoel’, ‘depressie’ en ‘denke’ verskyn in die lys van mees gebruikte woorde saam met onderskeidelik ‘voel’, ‘depressief’ en ‘dink’,” vertel Marais.
“Plasings het op Maandae en Dinsdae toegeneem, met minder plasings op Saterdae. Vergeleke met ander dae van die week het plasings op Maandae meer betrokkenheid in die vorm van regmerkies ontvang, terwyl plasings op Saterdae meer betrokkenheid in die vorm van kommentaar ontvang het.
“Interessant genoeg het die aantal plasings tussen 22:00 en 05:00 toegeneem. Dit ondersteun vorige studies wat toon dat mense met depressie geneig is om snags meer aktief op sosiale media te wees.”
Marais sê nog interessante bevindings was “emosionele versterking” – dit wil sê wanneer mense mekaar se emosies aanlyn versterk. “As twee mense byvoorbeeld albei negatiewe inhoud plaas, is hulle geneig om dit meer gereeld en langer te doen en sodoende daardie emosies te versterk.
“Hierdie was sterker onder mense met depressie. Dit gebeur ook met positiewe emosies, maar die uitwerking is nie so sterk soos in die geval van gedeelde negatiewe emosies nie.”
Marais voer aan die depressie-spesifieke leksikon wat hy ontwikkel het, is meer betroubaar as huidige groot taalmodelle wat met geestesgesondheidsverwante inhoud afgerig is.
Meer akkuraat
“Die leksikon was ook meer akkuraat as algemeen gebruikte gevoelshulpmiddels in die ontleding van subreddit-plasings met betrekking tot ander geestesgesondheidstoestande soos angs en posttraumatiese stresversteuring. Dis ‘n verbetering op tradisionele oopbron-woordlyste wat vir algemene taalgebruik ontwerp is, maar nie die subtiele emosionele uitings wat in geestesgesondheidsgesprekke voorkom, sal vasvang nie.”
Benewens die depressie-spesifieke leksikon het Marais die insigte van Reddit ook gebruik om ‘n agentgebaseerde simulasiemodel van interaksies op Twitter (nou X) te ontwikkel om te ondersoek hoe geestesgesondheidsverwante inhoud op dié platform versprei.
Hy sê die model steun op realistiese interaksiepatrone, waargenome gebruikersgedrag asook insigte uit natuurlike taalverwerking en ingryping-strategieë.
Die twiets, wat gebruikers se emosionele toestand (positief, negatief of neutraal) weerspieël het, is ingesamel voordat die platform ‘n nuwe handelsmerk gekry het en derhalwe is die bevindings van toepassing op die destydse platformontwerp, -kenmerke en -algoritmes.
Marais wys daarop dat die twiets frases bevat het wat die gebruiker se ervaring van depressie op ‘n nie-oordrewe manier bevestig het, soos: “Ek is met depressie gediagnoseer” (sic), “Ek veg teen depressie” en “Ek ly aan depressie”. Elke frase verteenwoordig ‘n datastel van twiets en die ooreenstemmende gebruiker wat een of meer van hierdie frases geplaas het.
Volgens hom weerspieël die model hoe individue se emosionele toestand oor tyd heen voortduur, maar ook hoe hulle deur ander in hul netwerk beïnvloed word. Dit het getoon dat herhaalde blootstelling aan soortgelyke negatiewe gevoelens geneig is om daardie emosies oor tyd heen te versterk en te verdiep.
Marais sê vier belanghebbers kan by sy studie baat vind: “Navorsers word toegerus met hulpmiddels om geestesgesondheid aanlyn te bestudeer; praktisyns bekom insigte in eietydse ervarings van depressie; platformontwikkelaars ontvang bewysgebaseerde aanbevelings vir die bevordering van die welstand van gebruikers; en sosialemedia-gebruikers kry ‘n beter begrip van hul rol in algoritmegedrewe omgewings.”
Marais sê sy studie is ‘n stap vooruit in die verbetering van digitale gesondheid en welstand. Dit beklemtoon die dringende behoefte om “voorkeur aan geestesgesondheidsoorwegings in die ontwerp van digitale platforms te gee”.




You must be logged in to post a comment.