Die Stellenbosch-polisie ondersoek die dood van ‘n jong Matie nadat sy lyk die afgelope naweek op die trappe van die Neelsie-studentesentrum gevind is.
Antonio Britto (22), ‘n student aan die Universiteit Stellenbosch (US), is Saterdag 30 Mei in die vroeë oggendure op kampus gevind.
Volgens die Stellenbosch-polisie word geen onraad oor die jong man se dood vermoed nie.
Die US se musiekdepartement het sy medelye teenoor Britto se geliefdes in ‘n sosiale-media-plasing gedeel.
Britto, wat besig was om ‘n BA in internasionale studies te voltooi, word beskryf as ‘n “gewaardeerde en integrale deel van die departement” vir sy werk aan vele konserte wat oor die jare by die Endler-saal aangebied is.
Britto is oorspronklik van Davidsonville in Roodepoort. Hy het sy studies in musiek by die universiteit in 2017 begin en intussen glo na politieke wetenskap oorgeskakel. Hy was in sy vierde jaar.
Benewens sy betrokkenheid by die departement van musiek was Britto ook lid van verskeie groepe en organisasies by die US. Die Queer US-organisasie, waarvan Britto ‘n adjunk-president was, beskryf hom as ‘n gekoesterde lid van die Stellenbosch- en queer-gemeenskap.
“Antonio het van sy passie vir klassieke musiek en die kunste tot sy toewyding tot kampvegting en sosiale verandering ‘n ingesteldheid gehad wat diegene om hom inspireer het,” lui die Queer-US verklaring.
Kapt. Nathalie Martin, ‘n woordvoerder vir die Stellenbosch-polisie, sê die plaaslike polisie is omstreeks 04:20 na die Neelsie uitgeroep, waar Britto reeds oorlede was.
Hy is deur paramedici van ER24 op die toneel dood verklaar. Martin het bevestig ‘n geregtelike doodsondersoek is geopen.
‘n BackaBuddy-veldtog is begin om sy enkel-ma, Yulandi Britto, te help met die onkostes om haar seun ter ruste te lê.



