Dr. Elna von Schlicht, burgemeester van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit, en die brandweerhoof, Wayne Josias, doen inspeksie van die parade en gee Mark-Junior Hendricks ‘n gelukwensende handdruk . Foto: Yaël Malgas

Foto’s || Brandbestryders voltooi opleiding, gereed vir nuwe loopbaan

Dr. Elna von Schlicht, burgemeester van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit, en die brandweerhoof, Wayne Josias, doen inspeksie van die parade en gee Mark-Junior Hendricks ‘n gelukwensende handdruk . Foto: Yaël Malgas

Die Wynlande het op Vrydag 16 Oktober altesaam 20 brandweermanne ryker geword, met agt van dié beamptes wat van die Eikestad is.

Die lenteklas van die Opleidingsakademie vir Branddienste van die Kaapse Wynlande-distriksmunisipaliteit (KWDM) het verlede week die eerste stap geneem om amptelik hul loopbaan as brandbestryders te begin.

In aanskoue van trotse familie en vriende van Ceres, Worcester, Robertson en Stellenbosch is die beamptes vereer vir hul opleiding en prestasies. Hulle het ook hul vlugtige voetwerk tentoongestel.

LEES OOK: Universiteit Stellenbosch se ‘bergbokke’ skrik nie vir vlamme nie

Mulder Steyn
Mulder Steyn ontvang ‘n handdruk van Dr Elna von Schlicht, burgemeester van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit. Foto: Yaël Malgas

‘Meer as ‘n beroep’

Verandering was die tema van die geleentheid en die brandweerhoof, Wayne Josias, het die nuwe beamptes aangespoor om te bly verander en te groei, sodat elke dag beter as die vorige sal wees.

“Julle het hierdie oomblik verower met harde werk, deursettingsvermoë, dissipline en toewyding,” het Josias aan die klas gesê.

“Moenie vergeet dat die uniform wat jy dra meer as net ‘n beroep verteenwoordig nie. Dié uniform staan vir integriteit, verantwoordelikheid en diens. Julle sal daar wees wanneer mense in die vreesaanjaende oomblikke van hul lewens is. Onthou jul opleiding, vertrou in jou kollegas, bly kalm, staansterk en moenie vergeet hoekom jy gekies het om van diens te wees nie.”

Gedurende die agt weke van opleiding van die Brandbestryder 1-kursus het die manne onder meer geleer hoe om verskillende persoonlike beskermende toerusting te gebruik, hoe om veilig met gevaarlike chemikalieë te werk te gaan en ontsmetting van tonele te doen.

Die brandweermanne marsjeer
Die 20 brandweermanne marsjeer tydens hul parade op Vrydag 16 Oktober. Foto: Yaël Malgas

Belegging in Wynlande

Vir Sarah en Gordon Fielies was dit ‘n moeilike paar weke, met Reagan (22) in Stellenbosch en hulle op die plaas in Worcester waar hulle woon.

“Hy wou reeds van kleintyd ‘n brandweerman word. Dit was moeilik omdat ons só ver was. Daar was baie spanning aan ons kant, maar vandag is ons meer as trots op hom,” sê Reagan se ouers.

Dit was ook ‘n spesiale parade vir die KWDM-burgemeester, dr. Elna von Schlicht, aangesien dit haar laaste parade aan die stuur van die distriksmunisipaliteit was.

‘n Emosionele Von Schlicht het Josias en sy kollegas van die opleidingsentrum, asook die adjunkburgemeester en raadslid Margie Sampson, die speaker Donovan Joubert, en die raadslid Regie Farao, portefeuljehouer vir brandweerdienste, bedank vir hul aandeel in die suksesvolle bestuur van die opleidingsprogram.

“Die belegging wat hier in die Wynlande gemaak word sal uiteindelik nie net ons streek bevoordeel nie, maar verder gaan as net ons gemeenskap. Dit is uiteindelik in diens van die land en selfs buite ons grense. Onthou, agter elke noodgeval is ‘n mens met ‘n storie. Moenie dit uit die oog verloor nie,” het sy die beamptes aangemoedig.

Top studente

Onder die beamptes wat reeds naamgemaak het met hul prestasies tydens hul opleiding was Mark-Junior Hendricks (24), wat aangewys is as die Beste Teoretiese Student vir beide Brandweerman 1 en Bewustheid van Gevaarlike Stowwe.

Luthando Tloti (30) het die toekenning verower vir Beste Teoretiese Student – Operasies met Gevaarlike Stowwe, en Nashwell Vermeulen (24) vir Beste Praktiese Student (Brandweerman 1).

Matthayo September (20) was die Beste Praktiese Student – Operasies met Gevaarlike Stowwe, terwyl die Stellenbosser Mulder Steyn (24) die Heinrich Louw-toekenning verower het vir die student met die grootste verbetering.

Fielies is aangewys as die mees gedissiplineerde student en Edwill Pietersen (25) was die top-student van die kursus.

‘n Tradisionele klokseremonie ter nagedagtenis aan gestorwe beamptes is ook gehou en ter afsluiting van die parade het die nuwe klas sy drilkommando, onder toejuiging van hul geliefdes, uitgevoer.

LEES OOK: Photos | Cape Winelands District Municipalty’s new firefighting corps step out

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article