Die Groot-Drakenstein-polisiekantoor het onlangs van sers. Julian Martin afskeid geneem.

Martin is ná 16 jaar van toegewyde diens in die plaaslike gemeenskap na die provinsiale kantoor oorgeplaas.

Hy het in 2010 sy loopbaan by die kantoor as ‘n konstabel begin. Deur die jare het hy in verskeie sleutelrolle gedien en homself as ‘n bekwame en betroubare lid van die polisie bewys.

In 2020 is hy aangewys as landelike sektorbestuurder en later ook as stedelike sektorbestuurder en geleentheids- koördineerder. Martin het ook in ‘n stadium as hoof van sigbare polisiëring waargeneem, waar hy verdere leierservaring opgedoen het.

Sy toewyding en professionalisme is oor die jare erken. In 2016 het hy ‘n toekenning van die kantoor van die direkteur van openbare vervolging ontvang vir uitstaande polisiewerk en getuienis, as deel van ‘n span wat betrokke was by die suksesvolle inhegtenisneming van huisrowers.

Meer onlangs, in 2024, is hy as die beste landelike sektorbestuurder in die Wes-Kaap aangewys.

Gedurende sy diens was Martin by verskeie suksesvolle operasies in die Groot-Drakenstein-gebied betrokke. Hy het ook ‘n belangrike rol in die versterking van verhoudings tussen die polisie en die gemeenskap gespeel deur nou saam te werk met buurtwagte, die Gemeenskap in Blou en gemeenskapspolisiëringsforums.

In Januarie is hy deur die Wes-Kaapse provinsiale polisiehoofkantoor gewerf na die afdeling vir sigbare polisiëring, waar hy voortaan op ‘n hoër vlak tot polisiëring sal bydra.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article