Twee mans is Vrydagaand 17 April in twee afsonderlike skietvoorvalle in Groendal, Franschhoek, koelbloedig afgemaai.
Kurt Maske, ‘n paramedikus van die Franschhoek First Responders, sê hulle het die aand omstreeks 22:30 ‘n oproep ontvang van iemand wat in ‘n skietvoorval in Asterstraat gewond is.
Hy sê die slagoffer het egter voor hul aankoms op die toneel na Upper Lea-straat gestrompel.
Volgens Maske het hulle die man buite ‘n spazawinkel in Upper Lea-straat met ‘n skietwond in die arm aangetref. Die man is na ‘n hospitaal geneem.
Maske sê hulle het in die winkel op ‘n tweede man afgekom, wat noodlottig gewond was.
Die paramedici is skaars vyf minute later na nog ‘n skietvoorval in die Langrug-informele nedersetting in Groendal ontbied.
Daar het hulle in ‘n winkel op die lyk van nog ‘n volwasse man, wat ook vroeër geskiet is, afgekom.
Inwoners is baie bekommerd oor hul veiligheid.
Volgens konst. Ndakhe Gwala, ‘n polisiewoordvoerder, het die polisie twee moordsake en ‘n saak van poging tot moord geregistreer.
Die motief vir die voorvalle is nog onbekend en niemand is in hegtenis geneem nie.




