Die Stellenbosch-munisipaliteit se beplande honde-eenheid moet vinniger op die been kom as wat die munisipaliteit aanvanklik beplan het, dus moes ‘n alternatiewe plek vir die fasiliteit gevind word.
Die sogenaamde K9-eenheid is ‘n gesamentlike projek wat munisipaliteite saam met die Wes-Kaapse departement van polisie-oorsig en gemeenskapsveiligheid behartig.
Die eenhede is reeds in die Swartland, Overberg en in die Tuinroete gevestig.
In Maart het die Stellenbosch-munisipaliteit in beginsel goedkeuring gegee om dié honde-eenheid op ‘n gedeelte van die Mountain Breeze-woonwapark te akkommodeer.
LEES OOK: Stellenbosch-munisipaliteit kry binnekort sy eie honde-eenheid

Terreinbesoek
Die munisipale bestuurder, Geraldine Mettler, het egter op Woensdag 27 Mei op die jongste raadsvergadering verduidelik die eerste honde vir die eenheid kan reeds in Augustus in die Eikestad aankom.
‘n Alternatiewe ligging vir die eenheid se huisvesting- en opleidingsfasiliteit moes gevind word aangesien die nodige infrastruktuur by die woonwapark gebou sou moes word. Hondehokke, ‘n kantoor en opleidingsgebied vir honde van die taktiese reaksiespan asook dienshonde sal gebou moet word.
Benewens misdaadbekamping word die opgeleide honde veral ook gebruik om vermiste mense te help opspoor sowel as tydens teenstroping-optredes.
Na afloop van ‘n terreinbesoek het amptenare van die munisipaliteit Papplaas in Devonvallei as ‘n alternatiewe geskikte plek vir die moontlike stigting van die K9-eenheid aangewys. Hierdie perseel is voorheen deur wetstoepassers as diereskuiling gebruik.
“Ons het reeds geld van die provinsiale regering ontvang vir die inrig van die fasiliteit; dit is reeds in die Staatskoerant aangekondig,” het Mettler verduidelik.
Kommentaar gevra
Honde sal hier grootgemaak en vir verskeie munisipaliteite se honde-eenhede opgelei word.
Raadslid Marius van Stade (Good) het gesê die moontlike skuif is kommerwekkend omdat die plaaslike gemeenskap nie in kennis gestel is nie.
“Die mense moet weet wat aangaan en moet geraadpleeg word. Ons [as munisipaliteit] moet oop en deursigtig wees sodat die gemeenskap werklik weet waarmee ons besig is en wat ons voornemens is,” meen Van Stade.
Die regerende party (DA) het egter teruggekap in die lig van verlede maand se besluit om die projek in beginsel goed te keur. Die projek moet nou ‘n openbaredeelnameproses ondergaan.
Die opleiding van die honde en diegene wat hulle hanteer sal deur die Genesis K9 Group gedoen word. Dié maatskappy was die enigste bieër vir die tender.
Opleiding sal na verwagting Maandag 31 Augustus van stapel gestuur word.




You must be logged in to post a comment.