Drie mense is Sondag 17 Mei dood en twee ander gewond nadat gewapende mans op ‘n huis in Franschhoek losgebrand het.
Volgens ‘n verklaring van die kantoor van die provinsiale kommissaris in die Wes-Kaap het die Franschhoek-skietery omstreeks 10:00 in Jakarandastraat in Groendal plaasgevind.
Verslae van die toneel af dui daarop dat twee gewapende mans die huis binnegegaan en verskeie skote op die inwoners afgevuur het.
Drie mans tussen die ouderdomme van 30 en 35 is op die toneel dood, terwyl ‘n vrou en nog ‘n man gewond is en vir mediese behandeling hospitaal toe geneem is.
Misdaadtoneelkenners het die perseel etlike ure lank vir bewyse deurgesoek terwyl ondersoekbeamptes met getuies gepraat en inligting in die omgewing ingewin het.
Die Franschhoek-polisie het sake van moord en poging tot moord geopen, waarna speurders verbonde aan die Provinsiale Eenheid vir Ernstige Geweldsmisdade die ondersoek oorgeneem het.
Volgens sers. Wesley Twigg, ‘n woordvoerder vir die Wes-Kaapse polisie, is niemand nog in hegtenis geneem nie en word die motief vir die skiet-aanval steeds ondersoek.




