Carli Janse van Rensburg
Carli Janse van Rensburg. FOTO: Verskaf

‘n Egpaar van Kimberley, wie gesamentlik meer as 8 000km se uithouritte voltooi het, neem dié week saam aan die 50ste Fauresmith-uithourit in die Vrystaat deel. In hierdie uitdagende uithourit oor drie dae word perd en ruiter oor meer as 200km aan berg- en rotsagtige terrein blootgestel.

Carli Janse van Rensburg sê sy en haar man, CJ, sien geweldig na dié uithourit van Dinsdag 8 Julie tot Donderdag 10 Julie uit. Dit ongeag die voorspelling dat die koue front wat tans heers, nog glad nie verby gaan wees nie. Dié egpaar sal deel van 280 ruiters en perde wees wat vanjaar deelneem.

Sy is op die kortlys vir die gesogte Uithouritvereniging van Suid-Afrika (Erasa) se nasionale span, en CJ neem vir die provinsiale span deel.

Carli Janse van Rensburg
Carli Janse van Rensburg. FOTO: Verskaf

Carli het as 13-jarige haar eerste 40km-uithourit by Boshof in die Vrystaat voltooi nadat sy op negejarige ouderdom met dressuur begin het. Dít nadat sy ‘n niggie se deelname aan ‘n uithourit by Koffiefontein gadegeslaan het, en besluit het om dit ook te probeer.

Vanjaar neem sy vir die vierde keer aan die Fauresmith-uithourit deel, op Karalana Mysty, ‘n perd wat sy as ” ‘n pragtige merrie, met ‘n innerlike vuur om te ry en ‘n sagte siel” beskryf. Carli het in totaal reeds meer as 4 000km se uithouritte voltooi.

Ongeag daarvan dat sy en Mysty nog slegs ses maande saam ry, glo sy hul band is sterk, gesmee deur gereelde weeklikse ritte van 60 tot 70 km, asook ‘n onlangse 80 km-wedren.

Tydens ‘n deelname, soos met die Fauresmith-uithourit, maak Carli seker dat Mysty die regte voeding kry, met genoeg energie en proteïen. Hul voorbereidings word ondersteun en aansienlik versterk deur Jetour Kimberley se borgskap, wat Carli van toerusting en ondersteuning voorsien.

Carli sê sy én Mysty is “baie opgewonde om hierdie wêreldklas-handelsmerk te verteenwoordig terwyl hulle dit doen waarvoor hulle lief is.”

Sy mik na ‘n mededingende deelname, met Mysty steeds in topgesondheid ná die afhandeling van die uithourit. Benewens die uithourit self, koester Carli dié byeenkoms se unieke kultuur: die kampvuurkuiers, hereniging met ou vriende, die deel van stories en ervaring, en die smee van nuwe bande.

Perde se welstand kry voorkeur

CJ het op tienjarige ouderdom begin deelneem. Hy het 18 jaar se perdry-ervaring, en ongeveer 4 000km se uithouritte voltooi.

Hy en sy perd, Koringkloof Enog, sal die Noord-Kaapse span in die standaardgewigkategorie verteenwoordig. Dié twee is vir die afgelope ses maande ‘n gedugte span. CJ word ook deur Jetour Kimberley ondersteun, en beoog om met ‘n volledige A-veeartslys af te sluit.

CJ Janse van Rensburg
CJ Janse van Rensburg. FOTO: Verskaf

Organiseerder en deelnemers aan die Fauresmith-uithourit gee voorkeur aan die welstand van die perde, met streng toesig wat voor, tydens en ná die rit deur veeartse gehandhaaf word. Met veearts-ondersoeke tydens die rit mag slegs dié perde wat die ondersoek slaag, met die uithourit voortgaan.

  • Lede van die publiek is welkom om by die Fauresmith-skouterrein byeen te kom om te sien hoe die perde die eindstreep oorsteek.
  • Diegene wat na die Fauresmith 50 radiouitsending wil luister, kan op 105FM inskakel.
  • Volg ook die Facebook-blad 50th Fauresmith 2025 vir gereelde opdaterings.

‘Argument’ lei tot uithourit

‘n Argument oor watter perderas die beste uithouvermoë het en wat in die Landbouweekblad gevoer is, het tot die aanbied van ‘n uithourit in 1964 gelei, aldus verskeie aanlynbronne. Om dié argument te beslis, het die tydskrif die uithourit, vanaf Hanover, deur De Aar tot in Richmond, en weer terug tot in Hanover, aangebied. Hiertydens het die Arabier-perderas uitgeblink.

Tydens dié rit is die perde nie deur veeartse ondersoek nie – anders as met die huidige uithouritte waar dit verpligtend is. In 1965, ná nog ‘n uithourit aangebied is, is ongeveer 60 perde wat deelgeneem het, glo dood nadat hulle vermoedelik vergiftig is deur persone wat nie met die aanbied van uithouritte saamgestem het nie.

Eers in die 1970’s is ‘n volgende uithourit van dié kaliber aangebied, en dié keer vanaf Fauresmith, waaraan 17 ruiters en hul perde deelgeneem het. Die aantal inskrywings het sedertdien jaarliks gegroei tot waar ‘n paar honderd ruiters en perde nou jaarliks deelneem.

Streng toesig en beheer word deur veeartse toegepas en ná elke 25km kry die perde ‘n ruskans waarna hulle ondersoek word. Enige perd wat aan uitputting lei of beserings het, word uit die uithourit onttrek.

Ruiter CJ Janse van Rensburg
CJ Janse van Rensburg. FOTO: Verskaf

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Untitled post 270499
    Vista E-edition 10 July 2025