Vrystaat Landbou (VL) het sy kommer uitgespreek oor die ernstige geweldsmisdade wat boere en landelike huishoudings bedreig.

Die organisasie doen ‘n dringende beroep op Firoz Cachalia, waarnemende minister van polisie, om by die bekendmaking van misdaadsyfers, plaasaanvalle en -moorde, soos omskryf in die nasionale landelikebeveiligings-strategie, apart uit te wys. Terselfdertyd moet alle ernstige geweldsmisdade soos moorde en pogings tot moord ook volledig weerspieël word, aangesien dit blyk dat die ware omvang van hierdie misdade nie duidelik uit die statistieke na vore kom nie.

Dié reaksie volg op Cachalia se onlangse opmerking dat “boere nie sistemies deur misdaad geteiken word nie.” Die VL sê hy veroordeel al dekades lank alle vorme van ernstige geweldsmisdaad in landelike gebiede, hetsy plaasmoorde, moorde in die algemeen, poging tot moord, gewapende roof of ernstige aanrandings, omdat dié misdade ‘n ingrypende invloed op boere, hul gesinne en werkers, sowel as op die volhoubaarheid van hul boerderypraktyke het.

Dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-analis van die VL, wys uit dat volgens Statistieke Suid-Afrika (Stats SA) se Landbou-misdaadopname van 2022:

  • 16,06% van huishoudings in die Vrystaat op plase woon;
  • slegs 10,43% van die 135 748 huishoudings primêr ‘n inkomste uit boerdery verdien; en
  • dat dit slegs 1,68% van die algehele 845 250 huishoudings in die provinsie verteenwoordig.

In die 2024-’25-boekjaar is 895 moorde in die Vrystaat aangemeld. As plaasmoorde volgens die amptelike definisie apart uitgewys word, toon dit dat nie al die moorde op landbougrond korrek weerspieël word nie. Dit laat blyk dat landelike huishoudings waarskynlik meer intensief deur misdadigers geteiken word.

Nog ‘n bekommernis is dat misdadigers dikwels by gewelds- en eiendomsverwante misdade betrokke is. Buys sê Stats SA wys byvoorbeeld daarop dat slegs sowat 10% van veediefstalgevalle aangemeld word.

“Dit beteken bykans 90% van hierdie misdade verskyn nooit in die minister se misdaadstatistieke nie.”

Die VL sê boerderygemeenskappe ervaar talle uitdagings met die polisiedienste soos:

■ gebrek aan diensbare voertuie wat die besoek van misdaadtonele vertraag;

■ misdadigers wat gereeld by georganiseerde groepe en sindikate betrek word, soms met elemente van polisie-korrupsie; en

■ voortdurende geteikendheid wat die oorlewing en finansiële volhoubaarheid van boere bedreig.

Die minister word versoek om die nasionale landelikebeveiligingstrategie ten volle in te stel en te verseker dat elke landelike of stedelike polisiekantoor oor minstens een tot twee toegewyde landelike veiligheidskoördineerders beskik met ‘n duidelike mandaat; ‘n toegewyde voertuig en toepaslike toerusting; en die beskikbaarstelling van 104 voertuie (2,9% van die Vrystaat se vloot) vir hierdie koördineerders. Die ernstige tekorte by die veediefstal-eenhede in mannekrag en voertuie moet hanteer word.

“Boere word wel sistematies geteiken en die polisie se onvermoë om hul grondwetlike mandaat uit te voer, plaas landelike gemeenskappe onder geweldige druk. Die VL vereis daadwerklike optrede en aanspreeklikheid om ons boere, hul gesinne en werkers te beskerm,” sê Francois Wilken, president van die VL.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article