MOSSELBAAI – Drie Suid-Afrikaanse spanne stap weg as wêreldkampioene ná die wêreldbuitelug-toutrekkampioenskappe wat vandeesweek in Mosselbaai gehou is.
Die byeenkoms is vanaf 14 tot 19 September in Mosselbaai aangebied met meer as sestien lande wat spanne gestuur het om deel te neem.
Seer hande en brandende beenspiere was aan die orde van die dag met spanne van lande so wyd as Engeland, België, Duitsland, China en Switzerland wat deelgeneem het.
In die afdeling vir junior mans (560kg) wen Suid-Afrika in die finaal teen Duitsland met Switzerland wat die derde plek kry. Nege toutrekkers van die Hoër Tegniese Skool Drostdy in Worcester is tot hierdie span verkies. Hulle het vroeër in die byeenkoms, in die ope-afdeling, as skoolspan deelgeneem en daar ook met goud weggestap.
LEES OOK: HTS Drostdy trek goud los by opeklubafdeling van buitelug-toutrek-wêreldkampioenskap
Die span van Goudini het vasgeskop en geweier om te laat los en ook ‘n goue medalje in die sak gesteek in die ope-afdeling vir o.23-vroue (500kg). In die tweede plek was die span van Ayrshire in Skotland, derde was Melton Mowbray in Engeland en in die vierde plek was die span van Malmesbury in Suid-Afrika.

In die afdeling vir senior mans (600kg), het Suid-Afrika gewen, met Switzerland in die tweede plek en Chinese Taipei derde.
In die afdeling vir junior vroue (480kg) wen Chinese Taipei, met Suid-Afrika in die tweede plek en Switzerland derde. In die afdeling vir senior vroue (500kg) wen Chinese Taipei teen Duitsland. Suid-Afrika het in hierdie afdeling ‘n vierde plek behaal.
“Elke trek, elke poging en elke oomblik van vasbyt het vrugte afgewerp,” skryf die Goudini-toutrekklub op Facebook. “Ons is ons is ongelooflik trots op elkeen van julle! Julle het gewys wat gebeur wanneer ’n span saamstaan, saamveg en nooit opgee nie. Hierdie goud behoort aan elke hand wat getrek het, elke hart wat geglo het en elke persoon wat die span ondersteun het!”







You must be logged in to post a comment.