Die uitkoms van ‘n interne oudit het die afgelope Maandag (25 Augustus) voor die Drakenstein- munisipale raad gedien, waarin onthul is dat vrugtelose en verkwistende uitgawes vir die afgelope boekjaar R681 177 beloop.
Altesaam R664 665 daarvan hou verband met ‘n onregmatige uitbetaling wat gedoen is vir fase 3 van die ontwikkeling van die omstrede De Kraal-terrein in die Paarl, waarvan die werk nooit voltooi is nie.
Dié transaksie en uitgawes word tans deur die Valke en die Paarl-polisie ondersoek, is vandeesweek bevestig.
‘n Verdere R10 423,50 daarvan hou verband met wat die munisipaliteit beskou as “ongemagtigde reisreëlings” wat deur ‘n amptenaar na Krugersdorp in Gauteng aangegaan is.
Die betrokke amptenaar het uitgawes aangegaan om ‘n konferensie in Krugersdorp by te woon, maar wat glo nie deur die verantwoordelike bestuurders aanbeveel of ondersteun is nie.
Die konferensie is dus nie bygewoon nie en die uitgawes vir vlugkaartjies en verblyf is as verkwistend beskou.
Maandag is ook melding gemaak van ‘n verdere R6 089,04 in verkwistende uitgawes nadat die munisipaliteit versuim het om ‘n faktuur binne die vasgestelde betalingsvoorwaardes te vereffen. Dit was glo weens onvoldoende geld in die toegekende posnommer.
Raadslid Bazil Jacobs, die leier van die Concerned
Drakestein Residents-groep (CDR), het op die raadsvergadering veral sy ongelukkigheid oor die vrugtelose uitgawes op die De Kraal-projek uitgespreek.
Met die De Kraal-projek is vasgestel dat die maatskappy Austshamoa Services (Edms.) Bpk. ‘n bedrag van R1 454 220,30 (BTW ingesluit) betaal is, wat nie deel was van die betalingsertifikate wat deur die projek se raadgewende ingenieurs geverifieer is nie.
Die kontrakteur het toe teruggekeer na die terrein om verdere werk met betrekking tot die ongeverifieerde gedeelte van die konstrukie te voltooi.
Die munisipaliteit het toe IX Ingenieurs (Edms.) Bpk. aangestel om die bykomende werk, wat deur die aanvanklike kontrakteur gedoen is, te waardeer, waarop die verkwistende uitgawes op R664 655,74 te staan gekom het.
“Hierdie kwessie by De Kraal kom al vir jare aan. CDR wil weet hoekom is ‘n betaling gedoen sonder verifiëringsertifikate?” wou Jacobs weet.
Hy wou ook weet hoe die betrokke partye vir die uitgawes tot verantwoording geroep is.
“Watter nagevolge is daar vir die kontrakteurs en die munisipale amptenare betrokke? Dit is nie klein uitgawes nie – dis ‘n groot bedrag geld.
“Ons wil dan ook weet wat met hierdie konstruksiemaat- skappy se direkteurs gebeur, want ons hoor nou van hulle het weer werk by die munisipaliteit? Is hul maatskappy op die swartlys geplaas en hoe word verseker dat hulle nie [onder ander maatskappye] weer vir tenders in aanraking sal kom nie?”
Dr. Johan Leibbrandt, die stadsbestuurder, het op die raadsvergadering bevestig dat Austshamoa Services (Edms) wel op die swartlys geplaas is.
“Die punt wat raadslid Jacobs uitgelig het – dat sommige van die direkteure weer ‘n ander maatskappy begin het – is een wat ons gewis sal ondersoek. Ons aanvaar dat dit wel moontlik is en sal die nodige ondersoeke doen,” het hy gesê.
Volgens Leibbrandt is dit Gerald Esau, die voormalige direkteur vir gemeenskapsdienste, wat op twee geleenthede werk by De Kraal goedgekeur en afgeteken het.
“Ons het in daardie stadium al bevind dat die werk wat gelewer is, nie waarde vir die uitgawes was nie.
“Ek persoonlik het die voormalige direkteur daaroor aan-
gespreek en hy het belowe om aan die kontrakteur terug te rapporteer.”
Leibbrandt het verder gesê die munisipaliteit het die Valke en polisie betrek.
Hy het bevestig dat die projekbestuurder by Austshamoa Services (Edms.) Bpk. intussen bedank het, maar dat die munisipaliteit se vervolging voortgaan.
Die ontwikkeling van die De Kraal-sportterrein het in die 2017-’18-boekjaar begin.
Die algehele begroting was ongeveer R59 tot R60 miljoen, met ‘n beplande ontwikkelingsduur van vier jaar. Die projek sou tot die ontwikkeling van twee rugbyvelde, een krieketveld, netbalbane, pawiljoene en ‘n klubhuis lei. ‘n Museum sou ook opgerig word, wat die geskiedenis van De Kraal uitbeeld.





