‘n Dowe gesin van Worcester wat nou al vir die soveelste keer onder inbrake en diefstal deurgeloop het, meen hulle word geteiken omdat hulle doof is.
‘n Ontstelde Michael van Deventer (72) van Hospitaalheuwel sê die genadelose diewe is boonop so harteloos dat hulle tydens een van hul rits strooptogte die gesin se geliefde labrador aangerand het.
‘n Moedelose Van Deventer vertel aan Standard Breederivier Gazette dat die gesin al vyf keer onder booswigte deurgeloop het.
Hy sê benewens koperpype wat die diewe al weggedra het, het hulle ook by ‘n buitekamer op die perseel ingebreek en onder meer tuingereedskap, ‘n grassnyer, wasmasjien en gasbraaier gebuit.
Volgens Van Deventer het die booswigte op 16 Oktober by hul motorhuis ingebreek.
Hy sê hy weet nie hoe die skelms toegang tot die motorhuis gekry het nie, want daar is diefwering voor die vensters en die motorhuis was “goed toegesluit”.
“Ek voel so hartseer, want al my gereedskap soos my boor, boorpunte, een groot en een klein slypmasjien, swart klein gasstofie en twee gereedskapkaste is ook gesteel.
“Hierdie is goed wat ek baie nodig het om takies in en om die huis te verrig. Hulle het selfs my bakkie se gereedskap wat ek moet gebruik om ‘n pap wiel om te ruil gesteel. Ek voel so hartseer.
“Ek en my vrou is pensioenarisse. Elke keer wanneer ek by die versekering moet eis kos dit my baie geld, dan moet ek duurder betaal. Ek kan dit nie meer bekostig nie.
“Het daardie slegte rowers dan nie ‘n gewete nie? Ons doen niks aan hulle nie. Hoekom moet hulle ons altyd teiken? Is dit omdat ons doof is en nie kan hoor nie?
Rondom ons huis is baie ander huise ook. Hoekom nie daar inbreek nie – net by ons. Is dit omdat ons doof is? Ek kan nou nie werk nie, want al my goed in die motorhuis is gesteel.
Ons moet nou in vrees lewe omdat ons nie weet wat volgende gaan gebeur nie. Ons vra dus – los ons in vrede.”
Lynette Victor van die Nasionale Instituut vir Dowes (NID) se Gebaretaalsentrum in Worcester sê mense wat doof is of gehoorverlies het, kan in sekere situasies meer kwesbaar wees vir misdaad omdat hulle nie altyd waarskuwingstekens soos voetstappe, alarms, brekende glas of iemand wat nader kom, kan hoor nie.
Sy sê dit beteken egter nie dat alle dowes of mense met gehoorverlies noodwendig “sagte teikens” is nie.
Victor sê navorsing wys dat mense met gestremdhede soms ‘n groter risiko loop om slagoffers van misdaad te word. Redes hiervoor sluit in kommunikasie-uitdagings, isolasie en minder toegang tot veiligheidsinligting. Volgens haar is dit daarom belangrik dat gemeenskappe bewus is van hierdie uitdagings en saamwerk om almal veilig te hou.
Sers. Wesley Twigg, ‘n polisiewoordvoerder, bevestig ‘n huisbraaksaak is by die polisie geregistreer. Hy sê niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Twigg sê die saak word ondersoek.
Hy sê enigeen met inligting wat die polisie in hul ondersoek kan help, kan die tolvrye Stopmisdaadnommer, 08600 10111, skakel. Alternatiewelik kan daar anoniem gebruik gemaak word van die MySAPS mobiele toepassing.
LEES OOK: Eerste dowe student ontvang M-graad in SA Gebaretaal aan UV





