‘n Vrou het op die Universiteit van die Vrystaat se herfsgradeplegtigheid die eerste dowe student geword om ‘n M-graad in Suid-Afrikaanse Gebaretaal en Dowe Studies aan dié instansie behaal.
Renatha van Reenen (43) werk as taalinstrukteur by die Universiteit van die Witwatersrand en het onlangs haar M-graadstudie aan die UV voltooi.
Renatha, het as jong dowe kind talle hindernisse en uitdagings te bowe gekom, veral rondom toegang tot kommunikasie en stelsels wat nie met dowe leerders in gedagte ontwerp is nie. “Daardie ervarings het my vroeg in my lewe veerkragtigheid geleer.”

Sy het haar skoolloopbaan aan die Transoranje Skool vir Dowes voltooi. “Soos baie dowe leerders, moes ek hindernisse navigeer waaraan horende leerders dikwels nie hoef te dink nie. Hierdie uitdagings het ook my vasberadenheid gevorm om onderwys na te streef en vir insluiting te pleit.
“Met verloop van tyd het onderwys vir my meer as persoonlike prestasie geword – dit het ‘n manier geword om tot verandering by te dra. My studies het my gelei na Suid-Afrikaanse Gebaretaal en Dowe Studies, waar ek akademiese werk met my identiteit, taal en geleefde ervaring kon verbind.
“Daardie pad het uiteindelik gelei tot my meestersgraad aan die UV, waar ek gefokus het op navorsing wat bydra tot Dowe-wetenskap. Vir my het studies nooit net gegaan oor die verwerwing van ‘n kwalifikasie nie. Dit het gegaan oor die bewys dat dowe mense in akademiese ruimtes hoort en
kennis kan produseer.”

Renatha moes haar hele verhandeling op video in Suid-Afrikaanse Gebaretaal aanbied. “Dit was ‘n historiese en belangrike deel van die projek. My navorsing het gefokus op mondbewegings in Suid-Afrikaanse Gebaretaal en hul taalkundige betekenis. Baie mense dink Gebaretaal gaan slegs oor handbewegings, maar gebaretale is veel ryker as dit. Betekenis word ook deur die gesig, die oë en die mond oorgedra.”
Sy sê die opname het ook gedemonstreer dat akademiese kennis in visuele taal geproduseer en aangebied kan word.
Sy sê haar navorsing het ondersoek hoe mondbewegings deur verskillende generasies dowe Gebaretaalsprekers gebruik word en hoe hierdie patrone deur geskiedenis, onderwysstelsels en taalkontak beïnvloed is. “Ek het gevind dat hierdie kenmerke nie net taalstruktuur weerspieël nie, maar ook dowe identiteit, -kultuur en geleefde ervaring.”
Renatha sê die ontvangs van die graad was vir haar ‘n belangrike mylpaal, maar is nie die einde van haar reis nie.
“Ek wil voortgaan om my te beywer vir die bevordering van studiebeurse vir dowe studente en om met navorsing en beleidvorming groter erkenning te kry vir Suide-Afrikaanse Gebaretaal in die onderwys en samelewing.”
Sy sê haar reis het nog nooit net oor persoonlike mylpale gegaan nie, maar om te bewys dat dowe mense behoort, hul taal behoort, en hul kennis behoort.
“Wanneer ‘n dowe se potensiaal erken en ondersteun word, skep dit nie net sukses vir individue nie – dit transformeer die toekoms.”
Sy sê sy is baie dankbaar aan die UV se Departement Gebaretaal en Dowe Studies en die groot rol wat hulle in haar studies gespeel het.






You must be logged in to post a comment.