Teaterproduksie ter nagedagtenis van Krynauw Serdyn.
Agter (van links) is Hennie en Jessie Serdyn en die teatermaker Vincent Kruger saam met lede van die toneelgroep (voor van links) Fritz Ellis, Lisa Erasmus, Lizandri Booyse, Abri Chamberlain en JC Fouche.

‘Waar’s Windpomp Charlie’ huldeblyk aan Krynauw Serdyn

Teaterproduksie ter nagedagtenis van Krynauw Serdyn.
Agter (van links) is Hennie en Jessie Serdyn en die teatermaker Vincent Kruger saam met lede van die toneelgroep (voor van links) Fritz Ellis, Lisa Erasmus, Lizandri Booyse, Abri Chamberlain en JC Fouche.

Tien jaar gelede, in 2016, is die Laerskool Hendrik Louw-gemeenskap diep geraak deur die tragiese verlies van ‘n gr.6-leerder, Krynauw Serdyn.

DistriskPos & Helderberg Gazette het voorheen oor die tragedie, wat op ‘n kleinhoewe in Firlands afgespeel het, berig (“Fratsongeluk eis Strand-seun”, 2 Mei 2016).

Die 12-jarige is op Vrydagmiddag 22 April 2016 tragies doodgeskok terwyl hy en ‘n vriend in die reën gespeel het. Die seuns het van die motorhuis se dak op die hoenderhok gespring, maar ‘n afgebreekte boomtak het op die dak en teen ‘n kragdraad beland. Albei is geskok toe hulle op die dak gespring het. Krynauw se vriend het oorleef omdat hy skoene aangehad het, terwyl Krynauw kaalvoet was. Die ongeluk het die gemeenskap diep geraak.

Krynauw Serdyn het in 2016 doodgeskok.
Wyle Krynauw Serdyn.

Albei is geskok toe hulle op die dak gespring het. Krynauw se vriend het oorleef omdat hy skoene aangehad het, terwyl Krynauw kaalvoet was. Die ongeluk het die gemeenskap diep geraak.

Hoewel ‘n dekade verloop het, leef sy herinnering steeds voort in die harte van sy familie, vriende en die breër skoolgemeenskap.

Vanjaar het een van Krynauw se beste laerskoolvriende, Vincent Kruger, ‘n besondere ma-

nier gevind om sy ­nalatenskap te eer. Kruger, wat vandag ‘n onderwyser by die Laerskool Hendrik Louw is, het ‘n oorspronklike dramaproduksie geskryf getiteld Waar’s Windpomp Charlie?

Die produksie is ‘n aangrypende huldeblyk aan vriendskap, liefde, verlies en herinnering. Deur die oë van jong akteurs herinner die verhaal gehore daaraan dat, hoewel geliefdes nie meer fisies by ons is nie, hul invloed en die herinneringe wat hulle agterlaat vir altyd deel van ons lewe bly. Dit is ‘n roerende viering van hoe Krynauw steeds voortleef in die stories, herinneringe en lewe van sy vriende.

Die produksie word op die verhoog lewe gegee deur die talentvolle leerders van die Laerskool Hendrik Louw se Toneelgroep, wie se vertolkings die emosie en hoop van die verhaal op besonderse wyse vasvang.

Waar’s Windpomp Charlie? is Vrydagaand (24 Julie) by die Playhouse Theatre in Somerset-Wes opgevoer en reis daarna na die Montagu-jeug- toneelfees op Saterdag 8 en Sondag 9 Augustus, waar die rolverdeling met trots die Laerskool Hendrik Louw en die Helderberg-gemeenskap sal verteenwoordig.

Teaterproduksie ter nagedagtenis van Krynauw Serdyn.
Krynauw Serdyn se ouma Petro, broer Renier, pa Hennie, Vincent Kruger (teatermaker), ma Jessie en sussie Carli het almal die opvoering bygewoon.

Vir Kruger is hierdie produksie veel meer as net ‘n toneelstuk. Dit is ‘n huldeblyk aan ‘n lewenslange vriend wie se nalatenskap steeds voortleef in almal wat die voorreg gehad het om hom te ken. Dit is ‘n kragtige herinnering dat ware vriendskap nooit eindig nie en dat sommige mense, selfs lank nadat hulle weg is, vir altyd deel van ons stories bly.

Krynauw se ouers het ná die vertoning kommentaar gelewer: “Windpomp Charlie was ongelooflik spesiaal. Dankie, Vincent. Jy het jouself met hierdie toneelstuk oortref.

“Dit was vir ons as gesin besonder waardevol om al die maats en juffrou se herinneringe en ervarings van Krynauw te hoor. Ons is baie trots dat jy hom op so ‘n mooi manier vereer het. Ek besef nou dat sy dood by almal ‘n groot leemte gelaat het.”

Krynauw se pa, Hennie, het verder meegedeel: ” ‘n Deel van ons sal altyd ontbreek. Dit was ‘n diep ontroerende oomblik toe Vincent gekies het om Krynauw op so ‘n persoonlike en spesiale manier te vereer. Om al daardie stories en herinneringe vanuit sy vriende se perspektiewe te hoor, het baie vir ons as gesin beteken.

“Dit het ons ontsettend trots gemaak op die jong man en lojale vriend wat Krynauw vir almal om hom was.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article