‘n Gemeenskapsaktivis van Macassar het ‘n beweerde veiligheidsrisiko uitgewys nadat kabels in Smartie Town op die grond gelê is.
Christiaan Stewart het verlede Sondag (30 Augustus), na DistriksPos & Helderberg Gazette uitgereik nadat hy die voorval by die Stad Kaapstad aangemeld het.
Stewart beweer ‘n elektriese kabel het in Japonica-singel, Smartie Town neergesak en vonke op die grond veroorsaak, wat ‘n veiligheidsrisiko vir veral die gemeenskap se kinders inhou.
Hy het gesê die gemeenskap het hom op Donderdag 27 Augustus, van die voorval in kennis gestel en hy het dit dieselfde dag deur die Stad se portaal vir diensversoeke aangemeld. Alhoewel Stewart die voorval aan die Stad aangemeld het, val Macassar binne Eskom se gelisensieerde elektrisiteitsvoorsieningsgebied.
Eskom is die gelisensieerde verspreider vir dié gebied en is dus verantwoordelik vir die instandhouding van infrastruktuur en die hantering van foute. Eskom lys dié verantwoordelikhede self in sy voorlegging as verspreidingslisensiehouer aan die SA Nasionale Energiereguleerder.
Die koerant het na die kragverskaffer uitgereik, maar geen kommentaar oor die kabels gekry nie – net dat die krag op Maandag 31 Augustus herstel is.
“Dit is nog ‘n voorbeeld van Eskom se swak diens aan Macassar,” sê Stewart.



