‘n Tweeling van Strand het hul pad na die top-10 in die landwye laerskoolafdeling van die Skilder met Woorde-kompetisie oopgeverf.
Die graad 1-susters Docia-Rose en Elia-Ann Botha van die Laerskool Hendrik Louw het met hul vertolking van twee ikoniese Afrikaanse liedjies die top-10 behaal.
Die Skilder met Woorde-kompetisie, wat deur Afrikaans.com en die plaaslike kunstenaar Elsie Jooste aangebied is, het laer- en hoërskoolleerders uitgedaag om Afrikaanse liedjies in skilderye uit te beeld. Vanjaar is deelnemers genooi om een van 15 ikoniese Afrikaanse liedjies te skilder.
Docia-Rose het Valiant Swart se “Sonvanger” (2002) uitgebeeld as ‘n meisietjie wat letterlik uitreik om die son te vang, terwyl Elia-Ann ‘n meisie geverf het wat op ‘n kruispad tussen nywerheid en besoedeling en natuur en ooptheid loop in haar vertolking van Francois van Coke se “Dagdrome in Suburbia”.

Docia-Rose Botha het Valiant Swart se ”Sonvanger” tot lewe laat kom met ‘n meisietjie wat uitreik om die son te vang.
‘n Kruispad tussen twee wêrelde is wat Elia-Ann Botha in haar vertolking van Francois van Coke se “Dagdrome in Suburbia” geskilder het.

Die tweeling se skilderye het onder honderde uitgestaan. Nadat die kompetisie in Julie gesluit het, is dit deur Jooste en die bekende Afrikaanse sanger Jan Blohm op grond van uitbeelding, emosie, komposisie en tegniek beoordeel.
Die susters was vroeër in Augustus eers onder top-20, gevolg deur die top-10 op Vrydag 28 Augustus.
Hoewel die wenners die afgelope Vrydag (4 September) aangekondig is en die tweeling nie die podium gehaal het nie, bly hul prestasie as gr.1-leerders onder die top-10 jong kunstenaars in die land merkwaardig.
Die Strand-susters het bewys hulle kan teen die beste laerskoolleerders in die land meeding.




You must be logged in to post a comment.