‘n Tiener is agter tralies nadat ‘n kragboks in Macassar aan die brand gesteek is en inwoners vir drie dae sonder krag gelaat is.
Thembakazi Mpendukana, ‘n Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het bevestig dat die 19-jarige ná die voorval, wat op Dinsdag 21 Julie omstreeks 02:00 in Irisweg plaasgevind het, in hegtenis geneem is.
‘n Saak van opsetlike beskadiging van infrastruktuur is by die Macassar-polisiekantoor aangemeld en die verdagte het Woensdag 22 Julie in die Somerset-Wes-landdroshof verskyn.
Dillon Abraham, wat een huis weg van die kragboks woon, sê hy het geslaap toe hy van die brand wakker word. Nadat die brand geblus is, het sy frustrasie begin. Die gebied was vir drie dae sonder krag, en hy moes bederfbare goedere vervang.
“Ek is teleurgesteld. Hoe beweeg ons vorentoe – en dit boonop as dit ons eie mense is wat dit aan ons doen?” vra hy.

Abraham verduidelik dat kinders en oumense deel is van diegene wat onder die vandalisme ly.
Wat hom verder teleurgestel het, is die elektrisiteitsverskaffer, wat hy beweer jare gelede reeds die kragboks moes vervang het.
As dit ‘n ander gebied was, het Eskom dit al lankal vervang,
‘n Gemeenskapsleier, Christiaan Stewart, beweer die voorval is nie ‘n uitsondering nie en verskeie kragbokse in Irisweg en die Bellglen-gebied is die afgelope weke opsetlik aan die brand gesteek. Hy beweer petrol is gebruik om die brande te veroorsaak.
Stewart het in ‘n Facebook-inskrywing aangedui dat die uitbrand van kragbokse ‘n groot probleem is waarmee die gemeenskap te kampe het en dat dit nie as normaal beskou behoort te word nie.
Hy het verduidelik dat inwoners van Macassar bang is en eis dat owerhede dringend ingryp om die gemeenskap veiliger te maak.
DistriksPos & Helderberg Gazette het navrae aan Eskom gestuur, maar hy kon teen druktyd nie ‘n antwoord verskaf nie.





You must be logged in to post a comment.