Motorbestuurders in Broadway Boulevard is Saterdagoggend (7 Maart) vermaak deur ‘n ongewone spektakel – geesdriftige Hoërskool Strand-rugbyseuns wat sonder hemde en in tutu’s en ander kleurvolle uitrustings verkeer na hul karwassery probeer lok het.
Volgens ‘n skoolwoordvoerder hou die Hoërskool Strand jaarliks ‘n karwassery as deel van hul geldinsameling vir rugbytoere wat tydens die Maart-vakansie plaasvind.
Die verskillende ouderdomsgroepe gaan na verskillende bestemmings – die o.14’s na Outeniqua, die o.15’s na Paarl, die o.16’s na die Hoërskool Jeppe in Johannesburg en die o.19A- en B-spanne na die NMI Toyota Noord/Suid-toernooi by die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) in Pretoria.
Die koste vir hierdie toere wissel tussen R3 800 en R7 600 per speler, met ‘n sperdatum van Maandag 16 Maart vir betalings. Tydens die karwassery is elke ouderdomsgroep verantwoordelik vir ‘n spesifieke stap in die proses, terwyl die o.15’s hul eie inisiatief geneem het om karre by die verkeerslig aan te lok.
Die skool het ook ander geldinsamelingsaktiwiteite deur die jaar vir verskeie sportsoorte, insluitend twee rondes van ‘n aandreeks op Woensdag 11 en 18 Maart.
Die skool is steeds op soek na borge en bykomende bydraes van die gemeenskap om alle kinders te help om aan hierdie waardevolle toere deel te neem.
Die karwassery was volgens die woordvoerder suksesvol. “Die spelers het baie gees onder mekaar gebou en die gemeenskap het dit baie geniet. ‘n Paar skenkings is ontvang, wat ons by die fonds bygevoeg het.”
Motoriste het positief gereageer met foto’s en getoet, en baie het later teruggekom vir motorwas. Ongeveer 100 karre is gewas, maar die geld is nog nie opgetel nie.
Die volgende fondsinsamelingsaktiwiteit is die Aandreeks, waar volgens die woordvoerder “fantastiese rugby gespeel word”.





