Mia Kanka is die afgelope Vrydag (7 Augustus) deur Rusthof Sekondêre Skool vir haar geskiedkundige insluiting in die Suid-Afrikaanse o.19-vrouerugbyspan vereer.
“Ek is maar net Mia; ek is nie ‘n mens wat daarvan hou dat mense my so opbou as iets anders as wat ek is nie,” het die 16-jarige tydens die geleentheid gesê.
Dié tiener het die skool se rekordboeke herskryf toe sy die skool se eerste rugbyspeler geword het wat SA kleure verwerf.
Sy was ook deel van ‘n groep wat in SA rugby geskiedenis gemaak het toe hulle in die eerste SA Skole-meisiespan ingesluit is.
Om dié merkwaardige prestasies te vier, het Rusthof Sekondêr ‘n spesiale saalbyeenkoms gehou waar mede-leerders en personeel Springbok-kleure en -truie ter ondersteunng van Mia gedra het.
Dié talentvolle rugbyspeler se pad na die groen en goud was egter nie maklik en sonder uitdagings nie.
Mia het haar speelloopbaan by die Gordonbaai Pioneers-rugbyklub begin voordat sy as 12-jarige by die Up & Under-rugbyklub aangesluit het in die hoop om eendag haar provinsie en land te verteenwoordig.
Daardie droom is amper verwoes toe sy in 2024 ‘n besering opgedoen het, wat haar droom om vir die Westelike Provinsie te speel, in die wiele gery het.
“Die jaar 2024 het baie van my geverg en ek moes nader aan God beweeg,” vertel Mia. “Ek het elke aand saam met my pa na die veld gegaan, net vir ‘n nuwe begin.”

Dié harde werk is beloon toe sy verlede jaar vir die eerste SA o.16-elite-rugbykamp vir meisies gekies is (“Besering kan haar nie keer“, DistriksPos & Helderberg Gazette, 25 September 2025).
Vanjaar is Mia vir die WP-span, wat aan die FNB- o.18-meisieweektoernooi in Gqeberha deelgeneem het, gekies. Dit was ná die WP se laaste wedstryd teen Oostelike Provinsie dat sy eers die vrugte van haar harde werk gepluk het toe sy vir die SA Skole-span gekies is.
“Dit voel steeds onwerklik.”

In die historiese eerste wedstryd tussen die twee SA Skole-meisiespanne het haar span die ander met 31-17 geklop.
Die tiener het ‘n deurslaggewende rol gespeel deur die doelskop oor te stuur ná Anothando Mbada se drie in die 19de minuut. Die doelskop het die span vir die eerste keer in die wedstryd die voorsprong besorg.
“Ek het gedink ek gaan die skop mis, maar toe dit oorgaan, was ek diep binne-in my trots.”
Daardie prestasies het Vrydag se viering moontlik gemaak.
Tydens die byeenkoms het haar afrigter, Kehan Swanepoel van die Up & Under-rugbyklub, die 16-jarige vir haar toewyding en harde werk geloof. “Sy is ‘n spanspeler; ongeag watter trui sy dra, gee sy altyd haar alles vir daardie trui,” sê Swanepoel.
Die skoolhoof, Joan Adams, het gesê Mia en haar gesin is ‘n simbool van lojaliteit. “Haar gesin is die perfekte voorbeeld van die gesegde: ‘As jy nie saam met ons honger ly nie, kan jy nie saam met ons eet nie’,” het Adams gesê.


Terwyl Mia oorlaai is met lof, het sy die gehoor daaraan herinner dat sy nie anders as haar mede-leerders is nie. “Ek is maar net iemand wat elke dag opgestaan en besluit het dat my drome die moeite werd is om voor te veg,” sê Mia.

Selfs nadat sy historiese hoogtes bereik het, mik sy na die volgende stap en droom daarvan om SA op internasionale vlak te verteenwoordig.






You must be logged in to post a comment.