KI-gegenereerde beeld van 'n hoërskoolrugbyspan.
KI-gegenereerde beeld van ‘n hoërskoolrugbyspan slegs ter illustrasie.

Vuiste klap weer: Toeskouers storm veld by HHH-rugbywedstryd


Die Hoërskool Hottentots-Holland (HHH) ondersoek ‘n voorval nadat toeskouers tydens ‘n rugbywedstryd op die veld gestorm en ‘n speler die skeidsregter aangeval het.

Bronagh Hammond, ‘n woordvoerder vir die provinsiale onderwysdepartement, het gesê toeskouers het op Saterdag 15 Augustus tydens die o.19A-wedstryd tussen HHH en die Hoërskool De Kuilen twee keer die veld betree en in twiste met spelers betrokke geraak. ‘n HHH-speler het na bewering ook die skeids­regter fisiek gekonfronteer.

Die wedstryd is in Kuils­rivier gespeel tydens die vyfde jaarlikse interskole tussen die skole, waartydens seuns- en meisie-spanne in rugby, netbal en ander sportsoorte meegeding het.

Die interskole het die grootste deel van die dag positief verloop voordat dinge tydens die eerstespanrugbywedstryd bederf is.

“Hierdie gedrag word as onaanvaarbaar beskou,” het Hammond gesê en bevestig geen ernstige beserings is aangemeld nie.

Die skeidsregter is ook nie beseer nie.

Francois Fouché, die hoof van HHH, het Maandag 17 Augustus ‘n verklaring via die skool se Facebook-bladsy uitgereik om die voorval te bespreek.

“Geen wedstryd tussen twee spanne behoort te eindig soos wat die rugbywedstryd Saterdag geëindig het nie – veral nie by ‘n opvoedkundige instelling nie.”

Fouché het die toeskouers se gedrag as teleurstellend bestempel en ‘n beroep op volwassenes gedoen om ‘n beter voorbeeld vir die leerders te stel. “Skeidsregters sal foute maak. Ons, as afrigters en spelers, moet leer om dit op ‘n respekvolle wyse op die speelveld te hanteer.”

Fouché het bevestig dat die skool die saak ondersoek en beslissend sal optree teen die speler en ander wat “die skool se naam in oneer gebring het”.

Hy het ouers verseker die ­jaarlikse winter-interskole met De Kuilen sal voortgaan, maar het gesê die skool werk reeds aan maatreëls om spelersveiligheid te verbeter.

Hammond het beklemtoon dat die departement enige gedrag veroordeel wat die veiligheid van leerders, amptenare, personeel of toeskouers by skoolsportbyeenkomste ondermyn. Die departement se standpunt is dat skolesport die waardes moet voorleef wat skole by leerders wil vestig, soos respek, dissipline, sportmanskap en verantwoordelike burgerskap. “Hoewel skole veilige en positiewe sportomgewings bevorder, deel alle toeskouers ‘n verantwoordelikheid om hulself gepas te gedra en hierdie waardes tydens wedstryde te handhaaf,” het Hammond gesê.

Die voorval is die derde ernstige soortgelyke voorval by ‘n skoolrugbywedstryd in Augustus. Tydens die jaarlikse derby tussen die hoërskole Fairmont en The Settlers op Saterdag 1 Augustus by Fairmont in Durbanville het die skeidsregter die wedstryd gestaak nadat ‘n Fairmont-­speler na bewering ‘n rassistiese belediging teenoor ‘n speler van The Settlers gebruik het (“Rugby match in high school interschools stopped after ‘K-word‘,” NovaNews, 3 Augustus).

Hammond bevestig dié tugproses is nog nie afgehandel nie en die departement wag op die uitslag van die verhoor en ondersoek. Op dieselfde dag is ‘n Virseker Noord-vaalbeker-wedstryd tussen die hoërskole Menlopark en Dr EG Jansen in Pretoria gestaak nadat ‘n grootskaalse bakleiery waarby ouers en leerders betrokke was, uitgebreek het (“Noordvaal vow action after shocking schools rugby violence,” NovaNews, 3 Augustus).

Bakleiery langs die veld tydens wedstryd tussen EG Jansen en Menlopark wat gestaak moes word.
Die wedstryd tussen EG Jansen en Menlopark moes gestaak word nadat ‘n algehele bakleiery langs die veld uitgebreek het.
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article