Die gange van die Sencit Resthaven-tehuis word elke eerste en derde Woensdag van die maand gevul met lag wanneer vier vroue met verf-kwaste, speletjies en musiek opdaag.
Adriana Smith, Audrey du Toit, Lynn Reynolds en Anita Marx vorm saam “Goue Oomblikke” – ‘n organisasie wat in Maart gestig is om vreugde in bejaardes se lewens te bring.
Die idee het ontstaan toe Smith en Du Toit mekaar by vergaderings van die Vroue-landbouvereniging Kaapland in Stellenbosch en Solidariteit Helpende Hand ontmoet het.
‘n Vriendinskap het uitgeblom en teen die einde van verlede jaar het hulle besef hulle deel dieselfde visie – om met bejaardes te werk.
Hulle het begin uitkyk vir kleiner tehuise in die Helderberg om hul droom te verwesenlik. Toe Reynolds en Marx in Februarie by die groep aansluit, is “Goue Oomblikke” gebore en het hulle op Sencit besluit. Hul eerste besoek was op Woensdag 11 Maart – ‘n dag vol speletjies, gelag en nuwe vriendskappe.
Die doel van die besoeke is om nie net vir die bejaardes om te gee nie, maar om lag en liefde in hul lewe te bring. Lag is steeds die beste medisyne en dit breek die eensaamheid.


Bel Smith by 084 702 2250 of Du Toit by 083 200 5942 vir nog inligting oor betrokkenheid of skenkings aan Goue Oomblikke. Jy kan hulle ook by https://www.facebook.com/profile.hp?id=61583757278303 volg.






You must be logged in to post a comment.