Lavelle Prins hofsaak.
‘n Skare gemeenskapslede het buite die Strand-landdroshof saam ter ondersteuning van die saak van die driejarige ongelukslagoffer Lavelle Prins saamgedrom. Foto’s: Jamey Gordon

Motoris in die hof ná driejarige van Strand se dood

Lavelle Prins hofsaak.
‘n Skare gemeenskapslede het buite die Strand-landdroshof saam ter ondersteuning van die saak van die driejarige ongelukslagoffer Lavelle Prins saamgedrom. Foto’s: Jamey Gordon

‘n Verdagte is verlede Dinsdag (9 Junie) in verband met die noodlottige ongeluk wat die driejarige Lavelle Prins se lewe geëis het, in hegtenis geneem.

Die 34-jarige man het Woensdag (10 Junie) op aanklag van strafbare manslag in die Strand-landdroshof verskyn.

Die verskyning was vlugtig en die uitkoms het ‘n skare verontwaardigde gemeenskapslede, wat die hofverrigtinge ter ondersteuning aan Lavelle se ouers bygewoon het, geskok.

Die verdagte is op ‘n blote R500-­borgtog vrygelaat.

Buite die hof het ‘n groep gemeenskapslede met plakkate geregtigheid vir die driejarige geëis. Die lae borgtog het hewige reaksie ontlok.

“Hoe kan hulle hom op R500 vrylaat – en dít vir ‘moord’?” het een van die betogers uit woede gevra.

“Dis nie reg nie,” het vele ander herhaaldelik aangevoer.

Onder die skare wat buite die hof saamgedrom het, was die kleuterskooleienaar ­Maurisa Leibrandt van Juffrou se Kleuterskool in Lourensiapark, waar Lavelle ‘n leerder was. Leibrandt het die belangrikheid van die uitkoms van die saak namens Lavelle beklemtoon en gesê: “Ons staan vir geregtigheid vir ons maatjie Lavelle. Net soos ons in die pad speel, het hy ook in die pad gespeel – min ­wetend dat ‘n onverantwoorde­like bestuur­der sy lewe sou neem. Ons is net kinders en wil ook in die pad speel. Die verlies het tot baie kommer gelei – die kinders vra vrae: Wanneer kom hy terug skool toe? Hulle vra ook vrae oor veiligheid, selfs of die ‘uncle’ al gevang is. Ons verlang elke dag na Lavelle se stories en humor.”

Lavelle Prins hofsaak.
Personeellede van Juffrou se Kleuterskool, sowel as die kleuter se maatjies, het ook aan die plakkaatbetoging deelgeneem.

Volgens Lavelle se pa, Neville, voel die verdagte se vrylating vir hom “onregverdig”. “My kind se lewe is mos nie R500 werd nie.”

Hy het sy misnoeë uitgespreek teenoor die polisie wat volgens hom nie doeltreffend kommunikeer oor verwikkelinge in die saak nie. “Ek is eers om 08:15 die oggend van die hofverskyning deur die ondersoekbeampte, sersant [Siyamthanda] Makhanjana, van die inhegtenisneming ingelig en dat die verdagte hom in die beskuldigdebank sou vind,” het hy gesê met ‘n pleidooi aan die polisie om hul sokkies op te trek en moeite te doen vir geregtigheid vir hul kind.

Lavelle Prins hofsaak.
Lavelle Prins se ouers, Neville Prins en Monecia Lackay. Foto: Jamey Gordon

Met verdere navraag aan die Strand-polisie het die stasiebevelvoerder kol. Jacqui Johnson gesê dat die verdagte se inhegtenisneming, wat verlede Dinsdag plaasgevind het, ook geprosesseer is.

Die verdagte Lance Jordaan is aangekla van strafbare manslag en het op hierdie aanklag in die hof verskyn.

“Die [slagoffer se] vader is deur die ondersoekbeampte ingelig – op sy beurt het die vader die hofverrigtinge bygewoon,” het Johnson verduidelik.

Rouklaers is op Saterdag 6 Junie die geleentheid gebied om hul laaste respek aan Lavelle te betoon, wat uit die All Saints Anglikaanse Katedraal in Somerset-Wes ter aarde bestel is.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article