elman-sibbe Logan en Hiram uit Macassar se B-blok, trots verteenwoordigers van hul gemeenskap.
Uit die B-blok van Macassar: Logan en Hiram Welman dra hul gemeenskap se naam met trots.

Van Macassar se B-blok: niks keer Welman-sibbe nie


Bloed laat die gras groei. Uit die strate van die B-blok in Macassar het die twee Welmans hul krag geput om ‘n hele gemeenskap se vlag in die wêreld van Suid-Afrikaanse rugby te plant.

Vyftien jaar gelede, voordat Hiram (23) en Logan (21) Welman professionele kontrakte ontvang het, was hulle kaalvoet in die strate van die blokke om die eer van hul tuiste te verdedig.

“Ek was ses jaar oud toe ek begin rugby speel het. Die seuns het my altyd geroep as ons teen die A-blok moes speel en hulle het my soos ‘n suster behandel,” onthou Logan.

Een van Hiram se mooiste herinne­ringe uit sy kinderjare is die laat aande van raak-rugby in die agtertuin saam met sy suster – oomblikke wat ‘n vlam in hulle albei aangesteek het; ‘n vlam wat tot vandag toe brand.

Later het die sibbe albei hulself by Oklahomastraat Primêre Skool en Macassar Jeug-rugbyklub gevind – Hiram by die o.13-span en Logan by die klub se vroue-span.

“Dit was hulle wat die honger vir rugby in my raakgesien het en op daardie manier het ek self begin glo dat ek een­dag rugby verder in my lewe wil vat,” vertel Hiram.

Agter die twee atlete staan ‘n familie wat nooit ‘n wedstryd gemis het nie. Hul ma, Amelia, oom Esmond en oupa Edward, is hul grootste ondersteuners – altyd op die kantlyn, heeltemal bankvas.

Logan verduidelik dat hul oupa altyd op die veld was om hul wedstryde te kyk, al was dit net die laaste oomblikke.

“Ek glo stellig dat my oupa vandag van bo af op ons neerkyk en baie trots op ons is,” sê Hiram.

Logan het haar pad van die B-blok se strate na die hoogste vlak van die Suid-Afrikaanse vrouerugby gebaan. Teen gr.7 het sy reeds Westelike Provinsie-geleenthede ontvang en daarvan het sy nooit teruggedraai nie.

Sy het die Springbok-vroue-sewes-span behaal en was deel van die nasionale vrouespan tydens hul segeviering by die 2026-Rugby-­Afrika-vrouebeker.

Logan Welman, trots van Macassar, breek deur die Keniaanse verdediging by die 2026-Rugby-Afrika-vrouebeker.
Logan Welman breek deur die verdediging van Kenia tydens die 2026-Rugby-Afrika-vrouebeker.

Hiram het op sy beurt sy pad gebaan van jeugrugby by die Hoërskool Macassar na die Rustenburg Impala-rugbyklub onder die Luiperds-rugbyunie. Vir dié seun van Macassar is dit ‘n eer en hy glo dat die geloof van jou gemeenskap al is wat ‘n speler nodig het – selfs sonder ‘n groot rugbyskool.

 Hiram Welman van Macassar in aksie vir die Rustenburg Impala-rugbyklub onder die Luiperds-rugbyunie.
Die seun van Macassar Hiram Welman in aksie vir die Rustenburg Impala-rugbyklub.

“Ek sê altyd – hy moes lankal al in ‘n Springbokspan gewees het… net die talent wat hy het en wat ek in hom sien,” sê Logan oor haar ouboet.

Die Welmans verstaan dat hulle Macassar op hul rûe dra en dat alles wat hulle bereik het, nie sonder die gemeenskap moontlik sou gewees het nie.

“Ek wil net dankie sê aan die Macassar-­gemeenskap, wat altyd bankvas agter ons staan,” sê Hiram.

Hulle wil die jeug van Macassar wys dat enigiets moontlik is.

“As jy drome en ‘n visie het, sit dit in aksie en glo daarin. Moet nooit opgee nie en dra altyd goeie dinge saam met jou,” sê Logan.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article