Die Somerset-Wes-inwoner, oudjoernalis en passievolle oudonderwyser Martia Heunis is eersdaags op die rakke met haar vierde boek, My moskombersie-mense. Heunis, wat die verhoog vroeër as bekroonde amateur-toneelspeler laat skitter het, skryf deesdae haar unieke mense-stories vanuit haar tuiste in Silver Oaks Lodge. Dié nuwe bundel biografiese essays is ‘n heerlike, deernisvolle en plek-plek skreeusnaakse blik op die unieke karakters in haar lewe. Jamey Gordon het met haar gesels oor die liefde vir die pen, nagtelike skryf-juweeltjies en die kuns om met absolute eerlikheid oor jou eie mense te skryf.

Vertel ons ‘n bietjie meer oor jouself?
Ek is ‘n oudjoernalis (Die Burger se vroueredaksie) en oudonderwyser (Afrikaans Huistaal en Engels Eerste Addisionele Taal) by verskeie Kaapse skole. Ek is ook ‘n redelik suksesvolle amateur-toneelspeler wat enkele jare gelede as die beste vroulike byspeler by die ATKV se nasionale toneelkompetisie in Bloemfontein aangewys is. Ek woon die afgelope paar jaar in Silver Oaks Lodge in Somerset-Wes. Ek het destyds baie teen my sin hier ingetrek – ek het gedink ek is te “jonk” vir ‘n aftree-oord – maar ek lei ‘n vol lewe en dit is by tye eintlik genotvol hier. My vriendin Leonora het my jare gelede aangemoedig, bykans “gedwing”, om te skryf. Vier jaar gelede het ek uiteindelik die bul aan die horings gepak. Wat heerlik is van die skrywery, is dat ek soms snags “bykans in my slaap” skryf – en die volgende oggend ontdek ek heerlike juweeltjies.
Hoe het die idee vir hierdie boek ontstaan? Ek skryf graag oor my mense – my ouers, broers, kinders, skoonseuns, kleinkinders, oudkollegas en vriende. My vorige boek, Die mense wat ek liefhet, was eintlik die “begin” van my mense-stories. Daar is net so baie uniek-kostelike mense in my lewe vir wie ek besonder lief is – ek moet eenvoudig hul stories vertel. Dit het my presies twee maande van dag en nag se onophoudelike skryf geneem om die boek te voltooi.
Waaroor handel die boek?
My moskombersie-mense gaan oor die mense in my lewe wat my met hul liefde omvou. Ek vertel elkeen se storie in kort vertellings oor dit wat hulle spesiaal maak – plek-plek op ‘n humoristiese wyse. Die titel verwys na die woorde van Laurika Rauch se lied: “Die mense wat ek liefhet, kom groei op my soos mos”. Ek wou hê my moskombersie-mense moet weet hoe spesiaal elkeen van hulle vir my is.
Watter storie laat jou nog altyd hardop lag?
Die eerste storie oor my ouers: my ma het ses koppies tee met een Rooi Rose-teesakkie gemaak – so erg dat haar kleindogter Lize gesê het haar ouma se gebruikte teesakkies is nie eens vir ‘n komposhoop van enige waarde nie. En sodra jy dink dit is nou die laaste keer, gebruik sy dit sowaar weer! In ‘n ander episode sê my ma tydens ‘n Kersete dat die gaste elkeen twee aartappels kan kry. My kleinniggie se man neem drie. My ma stap na hom toe, haal die derde aartappel uit sy bord met ‘n “ek het mos gesê slegs twee” en sit dit terug in die opskepskottel.
Die boek handel ook oor jou pa wat destyds ‘n minister was – hoe was dit?
Dit was moeilik om sy kind te wees, veral omdat hy vanweë sy posisie dikwels aan erge kritiek blootgestel is. Ek wou hom heeltyd beskerm en kon soms kwaad raak oor ongegronde kritiek. My pa was in ‘n stadium die minister van ekonomiese sake en moes by tye die brandstofprys verhoog. Een dag het ‘n man op hom afgestorm: “Jy! Ja, jy! Jy’s mos die bogger wat die petrolprys so opstoot!” My pa was ook mal oor mooi skoene, maar my ma – wat grensgeval-suinig was – het hom beperk. Hy het skoene in sy motor se bagasiebak “versteek” sodat sy nie daarvan moes weet nie, en gereeld nuwe motors gekoop wat hy by sy kantoor se motorhuis weggesteek het.
Het die skryf van die boek jou verander?
Ek het heelparty mense beter leer ken en was aangenaam verras deur sommiges. Ek het weer eens besef: “You can’t judge a book by its cover.”
Dit is jou vierde boek – vertel ons kortliks van die ander drie.
My eerste boek, My wipwa-rit met bipolêre gemoedsteurnis, is ‘n lewensverhaal met ‘n “ligte” kyk na die dertig jaar lange pad met dié siekte. Die tweede, Ons seun, Ricus, is ‘n radiodrama oor my vriendskap met ‘n oudleerder wat aan alkohol en tik verslaaf was, en hoe ek hom letterlik in ‘n rehabilitasiesentrum “ingeboender” het totdat hy ‘n uitstekende kwalifikasie behaal en ‘n suksesvolle loopbaan gevolg het, wat hom oor die lengte en breedte van Afrika geneem het. Die derde, Die mense wat ek liefhet, is die “voorloper” van My moskombersie-mense – met humoristiese vertellings oor my vriende, kinders, kleinkinders en die inwoners van Silver Oaks Lodge.
Werk jy reeds aan ‘n volgende boek?
Ek is gewis van plan om binne die volgende drie maande ‘n nuwe manuskrip aan te pak!





You must be logged in to post a comment.