Somerset-Wes-staatsaanklaer Karien Theron tree af.
Ná 35 jaar se onwrikbare toewyding aan geregtigheid, groet Karien ­Theron, die staatsaanklaer van die Somerset-­Wes-streekshof, ‘n welverdiende aftrede.

Staatsaanklaer groet Somerset-Wes-streekshof ná drie dekades

Somerset-Wes-staatsaanklaer Karien Theron tree af.
Ná 35 jaar se onwrikbare toewyding aan geregtigheid, groet Karien ­Theron, die staatsaanklaer van die Somerset-­Wes-streekshof, ‘n welverdiende aftrede.

Die Somerset-Wes-streekshof het verlede Woensdag (29 April) van die staatsaanklaer Karien Theron, wat die tuig ná meer as drie dekades neerlê, afskeid geneem.

Theron het 35 jaar van haar lewe aan die regstelsel toegewy. Voor haar aanstelling by die plaaslike hof, het sy in Strand, Stellenbosch, Kuilsrivier en Bellville gewerk. Dit was ‘n roeping wat haar gevorm het – nie net as regsgeleerde nie, maar as mens.

Een van die mees blywende lesse wat Theron uit haar loopbaan dra, is dat mense nie almal dieselfde is nie. Baie van die beskuldigdes voor haar het uit haglike omstandighede gekom – armoede; verwaarlosing; gebrek aan geleenthede. Tog, soos ‘n vroeëre landdros haar laat besef het, het duisende jongmense presies dieselfde agtergrond en het nooit die pad van misdaad ingeslaan nie. Dit het haar geleer om altyd met empatie en begrip na elke saak en elke mens te kyk.

Theron het by die geselligheid gesê sy het reeds haar finale saak afgehandel en haar laaste werksdag sou Donderdag (30 April) wees.

“Dit voel ongelooflik,” deel Theron oor hoe dit voel om uiteindelik af te tree. “Ek sien daarna uit om nie meer onder volgehoue druk te wees nie en weer tyd vir myself te hê.”

Somerset-Wes-staatsaanklaer Karien Theron tree af.
Sersant Linthea McKay (hofordonans), Karien Theron en Melissa Qesha (hoftolk).

Theron sê sy wil onthou word as iemand wat empaties, professioneel en regverdig was – “iemand wat haar werk na die beste van haar vermoë gedoen het”.

Sy het altyd waarde geheg aan die gesprekke met slagofferfamilies en getuies, omdat hierdie mense dikwels oor die hoof gesien word in die groter prentjie van die regstelsel. Haar raad aan enigeen wat hierdie beroep wil betree, is eenvoudig: Jy hoef nie die skerpste juris te wees nie, maar jy moet met mense kan werk.

Empatie en die vermoë om te luister en te verstaan waar iemand vandaan kom, is nie opsioneel nie – dit is noodsaaklik.

Vir diegene wat wonder wie die vrou agter die titel is? Buite die hof is Theron ‘n veelsydige vrou met ‘n ryk persoonlike lewe.

Sy woon alleen in Gordonsbaai en het op ‘n plaas in Tulbagh grootgeword. Sy het drie susters, hoewel sy onlangs die hartseer verlies van haar jongste suster, wat aan kanker oorlede is, moes verwerk. Akademies het sy aan die Universiteit Stellenbosch studeer en grade soos BA Juris, BA Regte, LLB en ‘n LLM behaal. In haar vrye tyd reis sy graag saam met vriende. Sy lees, hekel, doen naaldwerk en kook met genot.

Theron laat haar werk met ‘n geruste hart in die hande van haar kollegas, Hestia Grobbelaar, Deidre Hindley en Denzil Sass, ervare amptenare wat al lank in die howe staan.

“Die gemeenskap moet nie huiwer om met aanklaers te praat nie. Sulke gesprekke maak sake in die algemeen makliker en gladder. Aanklaers het groot verantwoordelikheid om te dra, maar die verhouding met die publiek bly ‘n noodsaaklike deel van ‘n gesonde regstelsel.”

Somerset-Wes-staatsaanklaer Karien Theron tree af.
Rhoda Slarmie (distrikshofaanklaer), Denzil Sass, Karien Theron, Hestia Grobbelaar (beheeraanklaer) en Deidre Hindley. Foto’s: Jamey Gordon
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article