Zandvliet groet Edward Jeptha.
Die onderwyser Edward Jeptha van Zandvliet Sekondêre Skool het ná 35 jaar die tuig neergelê. Foto: Yaseen Gaffar

Zandvliet sê totsiens aan 35 jaar se wetenskapmagie

Zandvliet groet Edward Jeptha.
Die onderwyser Edward Jeptha van Zandvliet Sekondêre Skool het ná 35 jaar die tuig neergelê. Foto: Yaseen Gaffar

Zandvliet Sekondêre Skool in ­Macassar het aan die einde van April van ‘n geliefde personeellid afskeid geneem, wat 35 jaar lank die vonk van wetenskap in duisende jong harte aan-gesteek het.

Edward Jeptha, ‘n onderwyser, katali­sator en baken het sy laaste periode voorverlede Donderdag (30 April) voltooi en die laboratorium agtergelaat vir ‘n nuwe reaksie.

“Noudat ek hierdie hoofstuk van my lewe toeslaan, doen ek dit met ‘n hart vol gemengde gevoe­lens, want sommige hoofstukke is te ryk om sonder weemoed agter te laat,” sê Jeptha.

“Ek gaan die onderrig, die leerders, my interaksie met my kollegas hier en by ander skole verskriklik mis. Wat ek nie gaan mis nie, is die opstel van ­eksamenvraestelle, verslae skryf en verduidelikings aan die ­direkteur hoekom ons nie ‘n

honderdpersentslaagsyfer het nie – dit gaan ek gewis nie mis nie! Ek gaan nou ook kans kry om stil te sit en werklik myself te ontdek – geen meer klasse en vasgestelde tye nie. Ek kan dit nou op my eie tyd doen, wanneer ek wil en as ek wil.

“Ek sien uit na hierdie geleent­heid om net myself weer te leer ken.”

Edward Jeptha groet ná 35 jaar in die onderwys.
Edward Jeptha groet ná 35 jaar in die onderwys.

Oor sy onderrigstyl vertel hy hy het nuwe werk altyd ingelui met ‘n prikkelende onderwerp, wat skynbaar geen verband met die les hou nie. Sodra leerders begin praat en deelneem, open hul gees en word nuwe kennis makliker oorgedra.

Dissipline en wedersydse respek was nie onderhandelbaar nie. “Jy kan nie onderrig sonder dissipline en wedersydse respek nie,” sê hy. “Ek het altyd voorgekom as streng, dog buigsaam. Die leerders wat in die klas was, het egter presies geweet wat ek van hulle verwag en wat hulle van my sou terugkry.”

Oor die jare moes hy saam met die tye verander. “Die ou ‘talk and chalk’ is verby. Daar’s dataprojektors en baie ander nuwe tegnologie wat ‘n mens kan gebruik.”

Sy benadering was eenvoudig – bring wetenskap tot die leer­der se vlak. “Laat hulle verstaan wetenskap vind in en om die huis plaas en is nie iets wat net in die klaskamer gebeur nie.”

Begrip bo alles

Vir hom het dit nooit eerste gegaan oor wetenskaplike puris­me nie, maar oor begrip. “Vir my het dit altyd gegaan oor die leerder. Die konsep moet verstaan word. En sodra hulle dit verstaan, kan jy die wetenskap daaragter verduidelik.”

Of ‘n les suksesvol was, het hy nooit hoef te raai nie. “Ná ‘n suksesvolle les kan jy die opgewondenheid hoor, sien en voel. Maar as hulle jou klas verlaat en hulle is doodstil, moet jy weet dat jy die volgende periode iets anders sal moet probeer.”

Jeptha was ook openhartig oor die uitdagings wat hy in die aanbieding van sy vak, fisiese wetenskap, in die gesig gestaar het.

“Die gebrek aan werkende toerusting, apparaat en chemikalieë is ‘n werklikheid by baie skole in ons gemeenskappe,” sê hy. “Jy as opvoeder moet vernuwend dink en alternatiewe gebruik.”

Die laboratorium het dikwels ook as lesingsaal gedien, wat beteken het apparaat moes voor elke praktikum opgestel en daarna weer weggepak word.

Nog ‘n stryd was om leerders te oortuig dat hul adres nie hul toekoms bepaal nie.

“Hulle hoef vir niemand terug te staan net omdat hulle in Macassar woon of by Zandvliet skoolgaan nie.”

Min kies fisiese wetenskap

Wat die toekoms van wetenskap­onderwys betref, is hy besorg. Al minder leer­ders neem die vak omdat wiskunde ‘n vereiste en ‘n struikelblok is.

Oor die afgelope 15 tot 20 jaar het Zandvliet skaars een proefstudent met wiskunde en fisiese wetenskap as hoofvakke gehad. “Die departement sal meer aansporings moet aanbied sodat onderwysers in hierdie vakke studeer en vir ons skole beskikbaar bly. Die meeste word deur maatskappye opgeraap en is vir ons kinders verlore.”

Jeptha laat sy kollegas met ‘n ernstige, dog bemoedigende woord: “Zandvliet kan nie net van agt tot drie ‘n skool wees nie. Vir baie leerders moet dit ‘n baken van hoop, ondersteuning en motivering wees, waar alle leerders veilig en beskerm voel.”

Hy sluit af met ‘n hartlike woord van dank vir die jare se ondersteuning en vriendskap en die wens dat Zandvliet van krag tot krag sal gaan.

Sy mees hartstogtelike woorde het hy vir die leerders bewaar. In 35 jaar het hy gesien hoe Zand­vliet dokters, rekenmeesters, entrepreneurs, predikante en vele meer die wêreld in stuur.

“Julle moet nie die storie glo dat niks goed uit township-skole kom nie. Ons het nie altyd dieselfde hulpbronne nie, maar ons het deursettingsvermoë, street smarts en rou talent. Jou adres moet nie ‘n beperking wees nie; jou toegewydheid moet jou definieer.”

Met aftrede wat wag, het hy gelukkig genoeg om na uit te sien. Jeptha speel graag gholf, al het die spel hom een belang­rike les geleer: “Skool is makliker as gholf!”

Hy hou van tuinmaak en herstel graag dinge om die huis self – wanneer sy rug dit toelaat.

Ná dekades, ses dae per week – Saterdae ingesluit met tutoring – verdien hierdie man sy rus. En hy weet presies hoe hy dit sal geniet – gehalte tyd met familie, stil op die bank, sport op TV en niemand wat vra oor die slaagsyfer nie.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article