‘n Donker wolk hang oor die Strand-skoolgemeenskap nadat ‘n tweede leerder binne net meer as ‘n week gesterf het.
Die jongste voorval het die afgelope Donderdag (27 Augustus) by die Dr. G.J. Joubert Primêre Skool plaasgevind toe ‘n gr.2-leerder op die skoolterrein gesterf het..
Sersant Wesley Twigg, ‘n provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig die Strand-polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek geregistreer ná die dood van ‘n negejarige seun by die Strandse laerskool om 11:05.
“Die omstandighede rakende die voorval word ondersoek. ‘n Lykskouing sal uitgevoer word om die doodsoorsaak vas te stel,” sê Twigg.
Die laerskoolleerder is op ‘n inskrywing op die skool se Facebook-blad as Angelo Swiers geïdentifiseer.
Dis skoolhoof, Tauhira Fanie, het die nuus van Swiers se dood op die skool se Facebook-blad aangekondig: “Dit is met groot hartseer dat ons u inlig oor die afsterwe van een van ons gr.2-leerders,” lui die omsendbrief.
Die skool het die onaangename taak gehad om die leerder se familie in te lig.
Fanie het dit as ‘n “moeilike tyd” vir die leerder se naasbestaandes beskryf en gevra hulle moet in gebede gehou word. Sy het bygevoeg dat sielkundige ondersteuning aan leerders en personeel gebied sou word.
“Ons opregte medelye aan die bedroefde familie. Mag julle krag en troos in hierdie moeilike tyd vind.”

‘n Sosialemediaplasing met die byskrif “In liefdevolle herinnering van ons Joubie-kind, Angelo” is later gedeel.

Die provinsiale onderwysdepartement het ook die dood van die leerder bevestig.
“Pogings is aangewend om die leerder te red, maar hy is tragies oorlede,” sê Bronagh Hammond, ‘n departementele woordvoerder.
Sy het bygevoeg die skoolbestuur het nooddienste gekontak, wat op die toneel gereageer het. “Die departement betuig sy medelye met die familie, vriende en die hele skoolgemeenskap oor hierdie tragiese verlies,” sê Hammond.
Die gr. 2-leerder se dood volg op die skielike dood van ‘n gr.11-leerder van Strand Sekondêr die week tevore (“Strand Sekondêr betreur kind se dood“, DistriksPos & Helderberg Gazette, 26 Augustus).

Dié 17-jarige, wat op die skool se sosiale media slegs as “Tapiwa” geïdentifiseer is, is op Dinsdag 18 Augustus in die teenwoordigheid van medeleerders oorlede.
Twigg het toe bevestig die Strand-polisie het ‘n geregtelike doodsondersoekdossier ná Tapiwa se dood om 12:08 by die skool in Onverwachtweg, Strand, geregistreer.
Hammond sê die sterftes van die twee leerders hou geen verband met mekaar nie en beskryf dit as twee tragiese, geïsoleerde voorvalle.






You must be logged in to post a comment.