“Dit is ’n skande dat Gauteng vir die meeste dae vanjaar – tot Augustus – die mees besoedelde plek op aarde was.
“Gauteng is met ’n bloedrooi kol op weer- en klimaatkaarte aangedui.”
Só het dr. Patience Gwaze, die nasionale luggehaltebeampte by die departement van bosbou, visserye en die omgewing, die afgelope naweek by ’n beraad oor lug-, water- en grondbesoedeling in Kempton Park gesê.
Die beraad, wat deur die portefeuljekomitee oor die omgewing, landbou en plaaslike ontwikkeling in die Gautengse wetgewer, gehou is, het gehoor tot 45 000 mense sterf jaarliks in Suid-Afrika weens lugbesoedeling.
Volgens Gwaze beloop Suid-Afrika se jaarlikse uitgawes vir die mediese behandeling van mense wat weens lugbesoedeling siek word, $1 triljoen (R16 257 640 000 000). Sy het gewaarsku as daar nie “met mening opgetree” word om Gauteng en die land se lug skoon te kry nie, sal dié probleem handuit ruk.
“Die krisis waarin Gauteng verkeer, word vererger deur verstedeliking, bevolkingsgroei, asook ’n groei in ekonomiese aktiwiteit.”
Gauteng is Suid-Afrika se kleinste, maar mees besoedelde provinsie. Hier woon 16 miljoen mense en vyf miljoen voertuie beweeg daagliks op die provinsie se paaie.”
- Lees die volledige artikel oor dié kwessie in Die Papier, wat nou op die rakke is.
- Huisaflewering is ook beskikbaar deur On the Dot te e-pos by diepapierintekening@onthedot.co.za of te bel by 087 353 2191.
- ’n Elektroniese koerant kan ook gekoop word by op novanews.co.za/diepapier of by Magzter.
