’n Sterk El Niño ontwikkel, maar Vrystaatse boere hoef nie noodwendig ’n uiters droë somer te verwag nie, sê die onafhanklike weervoorspeller Johan van den Berg van Bloemfontein.
Die El Niño-weerverskynsel verhoog wel die risiko vir warmer en droër toestande, maar beteken nie dat dit oral en aanhoudend droog sal wees nie. Reën kan steeds voorkom, en die hoeveelheid en verspreiding daarvan sal uiteindelik bepaal hoe die landbouseisoen verloop.
LEES HIER | Vrystaatse boere staal hulle vindingryk vir El Niño se droër tyd, maar dit kán reën
Huidige nat toestande vul kosbare grondwater aan
’n El Niño is ’n natuurlike klimaatverskynsel wat voorkom wanneer die see-oppervlak in die sentrale en oostelike tropiese Stille Oseaan warmer as normaal word.
Dit beïnvloed atmosferiese weerpatrone en kan in Suider-Afrika tot warmer en droër toestande lei. Van den Berg sê daar is steeds ’n redelike kans op reën in September en Oktober, maar die vooruitsigte lyk swakker vir November en Desember.
