#VKR Lions v Leinster: Die Papier se speler van die wedstryd is . . .

Lions-losskakel Chris Smith.
Lions-losskakel Chris Smith. Foto: Gallo Images.

Dis al jare lank die geval. Die Lions is besig om stilweg ’n paar supersterre te kweek. Vleuel Kelly Mpeku was briljant op die vleuel met ’n paar stewige lopies, en sy eweknie aan die ander kant van die veld, Erigh Cronjé, was die amptelike speler van die wedstryd gewees. Hy het gereeld deur gapings gebreek en elke keer gevaarlik gelyk as hy die bal in sy hande gehad het. Hy is natuurlik ook met ’n paar drieë daarvoor beloon.

Dan is daar ook Siba Mahashe wat balle links en regs bygekom het by die losgemale en hard gelak het.

Die Papier se speler van die wedstryd is egter Chris Smith. Nie net korrel hy baie goed pale toe nie, maar wat mens dalk nie altyd op die TV sien nie, is hoe goed hy die Lions se agterlyn bestuur.

Smith, wat nie self ’n kollig-koning is nie, het konstant by sy vleuels en senters gedraai om seker te maak hulle is almal op dieselfde bladsy om ’n baie gevaarlike agterlyn te bestuur. Die Lions het gewis een van die gevaarlikste agterlyne in die Verenigde Rugbykampioenskap.

Dikwels is dit die supersterre soos Henco van Wyk, die vleuels en heelagter Quan Horn wat die goeie drieë druk, maar jy het ook ’n generaal nodig wat die span kan bestuur sonder om self gereeld in die kollig te hardloop.

Dit is uiters gepas dat Smith ’n kardinale rol in die wendrie sou speel. Eers het hy ’n strafskop met ’n massiewe skop tot in Leinster se kwartgebied geskop, en toe met ’n skopaangee ’n Lions-speler in die hoek laat oorduik.

In ’n wedstryd waar die wenner slegs met ’n enkele punt beslis sou word, is Smith se skopskoen weereens van onskatbare belang gewees. Soos dit al soveel keer vantevore was.

  • Die Lions se volgende VKR-kragmeting teen die Ospreys vind op 3 Oktober om 13:45 op Ellispark plaas. Kaartjies kan by Lions Rugby bespreek word.

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos