Swaar vonnise vir moordenaars van Aussie-branderplankryers

Foto: X
Foto: X

’n Mexikaanse regter het Vrydag drie mans elk tot meer as 158 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op twee Australiese branderplankryers en hul Amerikaanse vriend in 2024. Die saak het wêreldwyd veroordeling uitgelok.

Die broers Jake en Callum Robinson, onderskeidelik 30 en 33 jaar oud, en hul 30-jarige vriend Carter Rhoad was op ’n branderplankryvakansie aan Mexiko se Stille Oseaan-kus toe hulle in die deelstaat Baja California tydens ’n poging tot roof doodgeskiet is.

Hulle het op 27 April 2024 in ’n afgeleë gebied langs die strand naby die stad Ensenada gekamp toe hulle aangeval is.

Hul liggame is dae later in ’n put bo-op ’n krans gevind. Al drie het skietwonde aan die kop gehad.

Die gevoellose wreedheid waarmee hulle vermoor is, het skokgolwe deur Ensenada gestuur, ’n branderplankrymekka wat mense van regoor die wêreld lok.

Regter Raul Hernandez het verlede week bevind dat die drie Mexikaanse beskuldigdes, wat slegs aan hul voorname – Jesus Gerardo, Irineo Francisco en Angel Jesus – uitgeken is, die aanval vooraf beplan het.

Vrydag is elkeen tot 158 jaar en nege maande tronkstraf gevonnis.

Die aanklaers het vergoeding van meer as $100 000 geëis, maar die regter het dit van die hand gewys en beslis dat enige eis om vergoeding deur middel van siviele regstappe ingestel moet word.

“Daar kan nooit geregtigheid wees vir die verlies van ’n seun nie, maar ons is dankbaar dat hierdie mans nooit weer iemand anders sal seermaak nie,” het Page, Rhoad se ma, gesê nadat sy van die uitspraak verneem het.

‘Sulke wreedheid’

Die Robinson-broers se ouers het van Australië na Mexiko gereis vir die verhoor, wat ’n maand geduur het, en het ná die uitspraak vertrek.

Hulle het tydens die verhoor roerend oor hul verlies getuig.

“Dit is moeilik vir ’n ouer om ’n seun te verloor, en ons het twee seuns verloor,” het Martin Robinson gesê.

Debra Robinson het gesê die seerste was dat haar seuns in hul laaste ure “met sulke wreedheid behandel is”.

Die slagoffers se families het die vonnisoplegging deur middel van ’n videoskakel gevolg.

Die voormalige meisie van Jesus Gerardo, wat daarvan beskuldig word dat hy die aanval gelei het, is in November tot 20 jaar tronkstraf gevonnis.

Sy het erken dat sy haar destydse kêrel aangespoor het om die bande van die bakkie te steel.

Volgens haar het haar voormalige kêrel die branderplankryers se pleidooie om hul lewens spottend geïgnoreer het. Hy het ook gespog oor die items wat hy by hulle gesteel het.

’n 9 mm-pistool en ’n .45-kaliberpistool is tydens die aanval gebruik.

Rhoad se verloofde, Natalie Weirtz, en sy ma, Page, het die hof deur middel van ’n videoskakel toegespreek.

Weirtz het gevra dat die beskuldigdes “gestraf word sodat geen ander familie dieselfde pyn hoef te ervaar nie”.

Baja California is een van Mexiko se gewelddadigste deelstate en word geteister deur georganiseerde misdaad en dwelmhandel, hoewel kartelbedrywighede gewoonlik nie toeriste raak nie.

Ander buitelandse besoekers is ook al aan Mexiko se Stille Oseaan-kus aangeval.

Twee Australiese branderplankryers, Dean Lucas en Adam Coleman, is in 2015 vermoor terwyl hulle deur die noordwestelike deelstaat Sinaloa gereis het. Hul liggame is later verbrand.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos