Suid-Afrika vermors jaarliks na raming 10,3 miljoen ton kos terwyl miljoene mense sukkel om voedsame maaltye te bekostig. Dié probleem kos die ekonomie volgens vorige ramings ongeveer R61,5 miljard of 2.1% van die bruto binnelandse produk.
Hierdie teenstrydigheid val saam met Wêreldvoedseldag op 16 Oktober en lei tot oproepe vir ’n nasionale strategie om oortollige voedsel by honger huishoudings uit te bring pleks daarvan om dit weg te gooi.
Prof. Jako Volschenk, medeprofessor in strategie en volhoubaarheid aan die Stellenbosch Bestuurskool, sê voedselvermorsing moet met dieselfde dringendheid as die land se elektrisiteits-, infrastruktuur- en misdaadkrisisse aangepak word.
“Om voedselvermorsing aan te spreek moet nie net daarop gemik wees om die hoeveelheid eetbare voedsel wat verlore gaan, te verminder nie, maar ook om te verseker dat ’n surplus voedsame kos in een gebied na gebiede versprei word waar mense dit die nodigste het. Dit behoort onwettig te wees om voedselafval op stortingsterreine te stort of onverkoopte, eetbare voedsel wat geskenk kan word, weg te gooi,” sê hy.
Volgens syfers wat die bestuurskool aanhaal, weet een uit elke vyf Suid-Afrikaanse huishoudings nie waar hul volgende maaltyd vandaan gaan kom nie, terwyl byna 3 miljoen kinders gereeld honger gaan slaap.
Meer as ’n kwart van kinders jonger as vyf jaar se groei word vertraag weens chroniese wanvoeding, wat hul opvoeding, toekomstige inkomste en gesondheid kan benadeel.

Volgens navorsing wat die skool aanhaal, gaan 34% van voedsel tydens voedselvervaardiging verlore. Voedselverwerking en verpakking is verantwoordelik vir 49% van dié vermorsing, terwyl 18% tydens verbruik plaasvind.
Onbetroubare elektrisiteitsvoorsiening, gebrekkige verkoelingsgeriewe en ondoeltreffende vervoerstelsels jaag die prys van gesonde voedsel op en dra by tot vermorsing, sê Volschenk.
“Deur bloot meer kalorieë te verskaf, word die gebrek aan behoorlike voeding verdoesel,” sê hy.
Hy vra vir beter samewerking tussen die regering, ondernemings en die burgerlike samelewing, strenger regulasies oor voedselafval en aansporings vir kleinhandelaars en produsente om oortollige eetbare voedsel te skenk. Volgens hom kan supermarkte afslag bied op produkte waarvan die verkoopdatum nader kom en vrugte en groente met geringe uiterlike gebreke goedkoper verkoop. Boere kan verwerkingsgeleenthede ondersoek vir produkte wat nie aan voorkomsvereistes voldoen nie, terwyl huishoudings maaltye beter kan beplan en oortollige kos kan vries.
“Die vermindering van voedselvermorsing is ’n noodsaaklike manier om voedselonsekerheid en wanvoeding aan te pak. Hoë vlakke van voedselvermorsing hou nie net gevare vir die gesondheid van die bevolking in nie, maar het ook ekonomiese en omgewingsgevolge,” sê Volschenk.
Voedsel wat op stortingsterreine beland, beteken ook dat die water en energie wat vir die produksie daarvan gebruik is, vermors word. Dit dra boonop tot kweekhuisgasvrystellings by, sê hy.
“ ’n Vol bord is bloot die beginpunt. Suid-Afrika se voedselstelsel moet beoordeel word aan die hand van die mate waarin dit elke kind en volwassene in die land van voedsame kos voorsien, en of dit dit kan volhou in ’n klimaat wat al hoe warmer en droër word,” sê Volschenk.
