Springbok-vroue platgevee deur Wallis in WXV-opening

Jakkie Cilliers, vleuel van die Springbok-vroue, op die aanval die afgelope Saterdag op Loftus teen die VSA. Foto: Floris van Schouwenburg, Gallo Images

Die Springbok-vroue het hul WXV Global Series-veldtog Vrydag met ’n swaar 50–19-nederlaag teen Wallis in Cardiff begin.

Wallis het van die eerste minute af beheer geneem en teen rustyd reeds met 38–5 voorgeloop. Die Walliese span het uiteindelik agt drieë teenoor Suid-Afrika se drie gedruk.

Die Springbok-vroue het vroeg gesukkel om Wallis se aanvalle te keer. Felicia Jacobs het Suid-Afrika se eerste drie gedruk nadat die span se sterk skrum besit gewen het, maar Wallis het vinnig weer die momentum oorgeneem.

Die tuisspan het ses keer in die eerste helfte gedruk, terwyl Suid-Afrika se taak verder bemoeilik is deur dissiplinêre probleme. Lindelwa Gwala is met ’n geelkaart afgestuur en Danelle Lochner se geelkaart is later na ’n 20-minute rooikaart opgegradeer.

Wallis het kort ná rustyd sy voorsprong verder uitgebrei toe Sisilia Tuipulotu haar tweede drie van die wedstryd gedruk het.

Die Springbok-vroue het daarna hul beste fase van die wedstryd beleef. Maria Tshiremba en Maceala Samboya het elk ’n drie gedruk, met Byrhandré Dolf wat albei doelskoppe oorgeskop het. Wallis het egter later weer beheer geneem en Alex Callender het die tuisspan se agtste drie gedruk om die eindtelling op 50–19 te staan te bring.

Vir Wallis was dit sy eerste oorwinning in die WXV Global Series, terwyl die nederlaag Suid-Afrika se tweede agtereenvolgende verlies ná die nederlaag teen die Black Ferns op 5 September was.

Die Springbok-vroue se volgende wedstryd is teen Italië volgende Saterdag.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos