Zekethelo Siyaya . . . Jaco Williams . . . Litelihle Bester. Is daar ’n agterlyn-drie wat só jonk maar tog só gevaarlik op die aanval lyk.
Die Sharks het die wedstryd eindelik 40-33 teen Lyon in Frankryk gewen en Siyaya was die amptelike speler van die wedstryd. Maar dit kon eintlik enige een van dié drie gewees het. Tussen hulle is daar vier drieë aangeteken.
Al drie was goed in die lug, innoverend in hul enkellopies en het seepglad die bal versprei.
Hul spel was beslis nie perfek nie en hulle het beurte gemaak om foute op verdediging te maak. Maar dié drie speel nie aldag saam nie en kohesie-foute gaan dus dan en wan plaasvind.
Die eenvoudige doel van rugby is wel duidelik elke keer wat een van dié drie die bal kry . . . jou span wen as hulle meer punte as hulle teenstanders aangeteken het.
Ja, hulle sal aan hul verdediging wil werk. Maar as jy heeltyd geleenthede vir jou span skep om te gaan druk elke keer wat jy die bal kry, is die kans goed dat jou span sal wen.
Die kuns is nou om dié drie spelers stelselmatig te verbeter terwyl ’n mens die klein foutjies begin uitskakel. Met soveel talent op ’n mens se hande, is dit amper onmoontlik om dié geleentheid te verkwansel.
