Jeandré Rudolf se drie in die tweede helfte behoort hom die speler van die wedstryd vir die volgende drie Bulls-wedstryde te besorg. Die Bulls het 56-20 met Stade Français afgereken in die eerste ronde van die Europese Kampioenebeker in Pretoria.
Ons speler van die wedstryd, nes die amptelike beslissing, is egter Cheswill Jooste. Sterk, vinnig en roekeloos op verdediging is presies wat die Bulls in ’n vleuel nodig het.
Jooste se drie binne die eerste minuut van die wedstryd was onverbeterlik. Maar dit is wat enkele minute daarna gebeur het, wat wys dat dié man se bloed blou is.
Die reuse Stade Français-stut Thomas Bue hardloop in die Bulls se helfte amper bo-oor Bulls-agtsteman Cameron Hanekom. Bue breek los uit die duikslag maar word dan gestuit en terug gedryf deur Jooste wat laag begin en dan hard werk om op en vorentoe te dryf.
’n Vleuel wat nounet ’n briljante drie in die hoek afgerond het, hoef beslis nie in die middel van die veld in die volgende speeltyd die teenstanders se stut te duik nie.
In ’n wedstryd waar die voorspelers dikwels sagte strafskoppe weggegee of die bal aangeslaan het, is dit verfrissend dat Jooste die meeste van sy wedstrydtyd benut het. Of dit op die aanval of op die verdediging was.
