Tien oud-Springbokke deel spesiale oomblikke en herinneringe teen die All Blacks, herinneringe wat hulle altyd sal koester, met Die Papier:
Morné du Plessis: “Om in 1970 as 20-jarige teen die All Blacks te kon uitdraf, was ’n hoogtepunt. Niks kan daarmee vergelyk word om die Bokke teen hulle op die veld te lei nie, veral omdat my pa, Felix, ook bevoorreg was om dit te doen.”
Richard Bands: “Die spesiale gevoel as jy voor die Haka staan en jy emosioneel besef jy verteenwoordig jou land en maak Springbok-geskiedenis. My 50-meter-drie by die ‘House of Pain’, waaroor mense 23 jaar later steeds praat, sal vir my altyd as ’n ongelooflike ervaring uitstaan.”
Jean de Villiers: “My 50ste en 100ste toetse wat ek teen die All Blacks gespeel het, en ook toe ek in my eerste toets teen hulle binne 24 sekondes in Christchurch ’n drie gedruk het . . . Dit was ook spesiaal om in 2009 die Drienasies-titel in Hamilton te wen en my drie ook.”
Hennie Bekker: “My drie teen die All Blacks in die eerste toets van die 1981-toer in Christchurch ná ’n binne-aangee van Ray Mordt was gewis ’n hoogtepunt.”
Divan Serfontein: “Om Suid-Afrika se naam tydens die moeilike sporttoer in 1981 met trots en waardigheid te kon hoog hou en die tweede toets oortuigend te kon wen.”
Hempies du Toit: “Om in die eerste toets van die 1981-toer onder moeilike omstandighede te kon speel, was ’n hoogtepunt, want al wat ons wou doen, was om teen die All Blacks te speel.”
Breyton Paulse: “My wendrie in die 1999-Wêreldbekertoernooi om die derde en vierde plek teen Nieu-Seeland in Wallis.”
Ricardo Loubscher: “Ons oorwinning op Ellispark in 2014 met 27-25 toe Pat Lambie in die doodsnikke met ’n strafdoel geslaag het.”
Kobus Wiese: “Hoe ek as jong seun die eerste keer die All Blacks in aksie gesien het toe ek in ’n voorwedstryd vir Noordwes-Kaap se o.11’s gespeel het. Min het ek toe geweet dat ek ’n hoogtepunt sou beleef deur die Wêreldbeker teen hulle op Ellispark te wen.”
Morné Steyn: “Elke enkele wedstryd teen die All Blacks staan uit. Jy meet jou teen die beste in die wêreld. Toe ek in 2009 al 31 punte teen hulle aangeteken het en my eerste toetsdrie gedruk het, sal dit altyd baie spesiaal bly.”
- Lees al die oud-Bokke se spesiale oomblikke in Die Papier, wat nou op die rakke is.
- Huisaflewering is ook beskikbaar deur On the Dot te e-pos by diepapierintekening@onthedot.co.za of te bel by 087 353 2191.
- ’n Elektroniese koerant kan ook gekoop word by op novanews.co.za/diepapier of by Magzter.
