Oogpunt: ‘Deeltydse’ Mashaba moet uit

Herman Mashaba, ActionSA-leier.
Herman Mashaba, ActionSA-leier. Foto: Gallo Images/Luba Lesolle.

Dat Herman Mashaba, leier van ActionSA, steeds sy persoonlike vete met Helen Zille, DA-burgemeesters­kandidaat in Johannesburg, lewendig wil hou, is sy saak. Om dit egter te verhef tot die akte van voorwaardes vir politieke samewerking om ’n ANC/EFF/MKP-alliansie uit die kussings te hou, maak hom ’n hofnar in die politieke sirkus.

Mashaba het vroeër aangedui as ActionSA en die DA in Johannesburg moet saamwerk, sal Zille nie as burgemeester aangestel kan word nie. Hy is ook sy party se burgemeesterskandidaat daar.

Boonop het Michael Beaumont, voorsitter en de facto-leier van ActionSA, verklaar dat hulle met “alle partye” praat. Ewe knus het hulle midde-in die huidige termyn besluit om die DA-geleide koalisie­regering in Tshwane tot ’n val te bring.

In ruil vir die burgemeesterskap is hulle in die bed saam met die ANC daar – wat al deur twee oudstryders van die ANC, Thabo Mbeki en Kgalema Motlanthe, as van die misdadigste in die organisasie bestempel is. Ook die EFF is deel van die politieke orgie.

Mashaba, wat interne partyleiers steeds self aanstel eerder as om verkiesings te hou, het die afgelope termyn verkies om in geen staatspos te dien nie. Beaumont is maar grootliks verantwoordelik vir die daaglikse bestuur van die party. Mashaba se persoonlike oorsese vakansies (met geld wat hy inderdaad deur harde werk as suksesvolle sakeman verdien het) dra by tot die idee dat hy hoogstens ’n “deeltydse” leier is. Gaan hy ooit in die Johannesburgse metroraad dien ná die verkiesing?

Nadat hy uit die DA weg is, het hy homself en ActionSA as die ware groot alternatief tot die ANC aangebied. Die resultaat is egter steeds dat dit ’n klein partytjie gebly het. Tog is daar bepaalde munisipale substreke waar die party se steun dubbelsyfers bereik en hy inderdaad as koningsmaker kan optree.

Objektief gesproke dus ’n party wat deur kiesers oorweeg sou kon word indien dit nie vir Mashaba se persoonlike obsessie met Zille, een van die mees suksesvolle politici sedert 1994, was nie.

Hoe die ANC en genote – ook die EFF en die MKP – enige owerheid stroop waar hulle vastrapplek kry, gaan Mashaba tog sekerlik nie verby nie. Of reken hy dit is nou anders in Tshwane? Die eerste prys, vir alle owerheidsgebiede in die land, is om soveel stabiele regerings moontlik sonder ­ANC-, EFF- of MKP-betrokkenheid te kry.

Indien Mashaba daardie moontlikheid in Johannesburg ongedaan wil maak, moet hy eerder uit. Hopelik seëvier gesonde verstand, indien ActionSA wel ’n koningsmaker in die Goudstad is. Talle meningspeilings wys dat die ANC erg steun verloor, maar dat sy eertydse kiesers wantrouig na alternatiewe kyk.

Of eerder die afdraaipad na links kies – nie juis meer die EFF nie, maar wel na die MKP en in klein hoeveelhede, dalk die SAKP.

Sentrumpartye soos die DA, VF Plus, wat oor is van die IVP en meer, se uitdaging bly om duideliker tuistes vir politieke haweloses te bied. Meer nog, om elke moontlike bestaande ondersteuner te motiveer om te gaan stem.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos