Lions kry ook Bok-hupstoot vir kragmeting teen Ospreys

Morné van den Berg, skrumskakel vir die Lions. Foto: Lions Rugby/Facebook.
Morné van den Berg, skrumskakel vir die Lions. Foto: Lions Rugby/Facebook

Die Lions sal ’n groot hupstoot kry met die terugkeer van Springbokke Morné van den Berg en Quan Horn vir hul Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd in die tweede ronde teen Ospreys Saterdag op Ellispark.

Albei spelers was verlede week deel van die Mandela-uitdaagbekerwedstryd teen die Wallabies in Australië en is vir die naweek se wedstryd by die groep ingesluit.

Lions-hoofafrigter Ivan van Rooyen het sy wedstrydgroep van 23 spelers aangepas ná verlede week se naelbyt-oorwinning van 27-26 oor die verdedigende kampioene, Leinster, op Ellispark, in ’n stryd wat tot ná die volle 80 minute gestrek het.

’n Gewysigde losvoorspelerskombinasie sien dat Siba Qoma die plek van die hardebaard Batho Hlekani inneem. JC Pretorius skuif na die nommer-ses-trui ten koste van Siba Mahashe, wat van die plaasvervangersbank af impak sal moet maak.

Henco van Wyk is dié week buite aksie nadat hy vroeg in verlede week se openingswedstryd ’n kopbesering opgedoen het. Ethan Adams neem sy plek in die beginspan in.

Die Lions se verdedigingsafrigter, Jaque Fourie, het gesê hoewel die span verlede week gewen het, is daar steeds verskeie aspekte waaraan hulle moet werk voor hul kragmeting met die Walliese span.

“Daar was steeds baie waaraan ons hierdie week moes werk ná verlede Saterdag se wedstryd teen Leinster. Ons moes hergroepeer omdat ons weet Ospreys gaan Saterdag ’n ander uitdaging bied, maar ons het ’n goeie voorbereidingsweek gehad en is opgewonde oor wat voorlê,” het die voormalige Springbok-senter gesê.

Die Ospreys-span, afgerig deur Mark Jones, het verlede week dapper weerstand teen die Durbaniete gebied, en Fourie waarsku dat hulle ’n span is wat nooit maklik tou opgooi nie.

“Ospreys is ’n taai span, hier tuis én wanneer ons teen hulle oorsee speel. Hulle het ’n groot pak voorspelers; hulle dryf goed in losgemaal-situasies en skrum sterk, veral teen die Sharks waar ons gesien het hoe daardie aspek van hul spel verbeter het. Hulle hou nooit op veg nie en speel vir die volle 80 minute, daarom moet ons klinies wees en hulle onder druk plaas, met én sonder die bal in die hand,” het hy gesê.

Afskop op Ellispark is om 13:45.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos