Lammie & kie: EMS gaan beslis nie boedel oorgee nie

Lammie. Foto: x/Humane World for Animals
Lammie. Foto: x/Humane World for Animals


Die EMS Stigting het sy “diepe terleurstelling” uitgespreek oor die Pretoria hooggeregshof se uitspraak dat drie olifante in die Johannesburgse dieretuin gevange moet bly.

Regter Noluntu Bam het Vrydag in haar uitspraak gesê die nie-regeringsorganisasies (NRO’s), die EMS Stigting, Animal Law Reform South Africa en hoofman Stephen Fritz, kon nie daarin geslaag om die hof daarvan te oortuig dat hul grondwetlike regte of dié van die drie olifante, Lammie, Mopane en Ramadiba geskaad word deurdat hulle in die dieretuin aangehou word nie.

Volgens Bam kon sy ook nie getuienis vind dat die olifante se aanhouding “onwettig en irrasioneel” is, soos wat die applikante beweer nie. Sy is tevrede met die aanhoudingspermitte wat die owerheid uitgereik het.

Die NRO’s en Fritz, wat die Khoi-gemeenskap in die saak verteenwoordig het, sê hulle het die hof genader met ’n aansoek dat die drie olifante in hul sorg vrygelaat moet word sodat hulle gerehabiliteer en in die natuur vrygelaat kan word.

Die EMS wys in sy reaksie daarop dat Bam se uitspraak kom, kort nadat die Konstitusionele hof in die saak tussen die Suid-Afrikaanse Jagters en Wilbewaringsvereniging en die Staat die aspek van die “welsyn van diere” uit die Nasionale Omgewingsbestuurwet (Nema) wou laat verwyder. Die Konstitusionele hof het eenparig beslis die welsyns-aspek van diere moet in dié wetgewing bly.

“Die EMS Stigting meen daarom diere se welsyn moet in alle opsigte geld.”

Diere se welsyn moet in ag geneem word wanneer byvoorbeeld permitte (in hierdie geval die aanhouding van wilde diere in gevangenskap) uitgereik word.

“Olifante is hoogsintelligente diere met ’n baie ingewikkelde sosiale struktuur. Die geleenthede vir bewegingsvryheid, keuses en sosiale interaksie is grondliggend aan hul welsyn. Hierdie aspekte moet betekenisvolle gewig dra wanneer owerhede permitte uitreik vir die gevangenskap van wilde diere.”

Die vraag wat owerhede behoort te vra, is: Is gevangenskap bevorderlik vir die diere se welsyn? sê die EMS.

“Die uitspraak is uiters terleurstellend, maar ons verantwoordelikheid teenoor hierdie olifante gaan voort,” sê Michelle Pickover, uitvoerende direkteur van die EMS Stigting.

Volgens Pickover is Lammie, Mopane en Ramadibe geregtig op ’n “beter lewe”. Sy het ’n beroep op die owerhede gedoen om dit baie ernstig op te neem om die diere wel vry te laat.

Volgens Pickover sal die NRO’s en Fritz die uitspraak bestudeer en met hul regspan vergader oor die volgende stappe, veral met in ag neming van die jongste uitspraak van die Konstitusionele hof.

Bam het nie ’n kostebevel teen die NRO’s uitgereik nie. Hieroor sê sy dit is belangrik dat NRO’s wat howe nader oor konstitusionele kwessies nie met kostebevele belas word nie. Sy meen kostebevele teen applikante in soortgelyke sake sal hierdeur afgeskrik word.

Die respondente in die saak was Johannesburg Parke en Dieretuin, die Stad Johannesburg, die Gautengse LUR vir ekonomiese ontwikkeling, landbou en landelike ontwikkeling en die minister van bosbou, visserye en die omgewing.

Die respondente het aangevoer dié saak het niks te make met die welsyn van die drie olifante nie. Hulle beskou dit as ’n “geokestreerde aanval om olifante en ander wilde diere uit aanhouding te bevry”.

*Die NRO’s is reeds sedert 2018 in ’n stryd gewikkel om die drie olifante vrygelaat te kry.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos