Israel se opposisieleier het die premier Benjamin Netanyahu van bangmakery beskuldig nadat hy beweer het dat vyande voor die 27 Oktober-verkiesing kan aanval.
Netanyahu, wie se peilings wys hy is in ’n gelykopwedloop om aan bewind te bly, het in onlangse weke waarskuwings uitgereik aan Iran, die militante groepe Hamas en Hezbollah en selfs die Palestynse owerheid.
Hy het ook wraak in die geval van ’n aanval belowe.
Die parlementêre opposisieleier Yair Lapid het gesê hy is seker verkiesings sal gehou word en “geen rede bestaan om die publiek paniekerig te maak nie”.
Hy het Netanyahu weer daarvan beskuldig dat hy waarskuwings van die Hamas-aanval op 7 Oktober 2023 geïgnoreer het “en nou, 28 dae voor die verkiesing, is hy skielik besig met bangmakery”, het Lapid gesê.
Lapid is een van ’n aantal opposisiefigure in die verkiesing, met die voormalige militêre hoof Gadi Eisenkot wat as Netanyahu se mees formidabele mededinger na vore kom.

Iran kry VSA se amptelike ‘nee’
Iranse owerhede het Woensdag gesê hulle het die amptelike VSA-antwoord op hul voorstel om die Midde-Oosterse oorlog te beëindig, ontvang, het staatsmedia berig – enkele dae nadat pres. Donald Trump die plan verwerp het.
Indirekte gesprekke tussen Amerika en Iran is verlede week ná sewe maande van konflik hervat.
Iran het gesê hy het sewe voorwaardes gestel vir die beëindiging van vyandelikhede en die heropening van die strategiese Straat van Hormoes, ’n noodsaaklike roete vir olie- en gasuitvoer.
Hoewel nie alle voorwaardes openbaar gemaak is nie, eis Iran ’n skietstaking regdeur die Midde-Ooste, insluitend in Libanon, waar sy bondgenoot Hezbollah teen Israelse magte baklei.
Trump het die voorstel verwerp toe hy met die media gepraat het, maar Teheran het op ’n amptelike antwoord via Katarse bemiddelaars gewag.
Gevegte het in onlangse weke bedaar, hoewel Iran steeds skepe in die straat teiken.
- Lees nog wêreldnuus op ons blad, “ ’n Week in die wêreld” in Die Papier, wat nou op die rakke is.
- Huisaflewering is ook beskikbaar deur On the Dot te e-pos by diepapierintekening@onthedot.co.za of te bel by 087 353 2191.
- ’n Elektroniese koerant kan ook gekoop word by op novanews.co.za/diepapier of by Magzter.
