Die afbakening van City Power se inkomste kom te midde van ’n ernstige finansiële en bedryfskrisis by die nutsmaatskappy. Volgens die Centre for Development and Enterprise (CDE) se jongste verslag, “Powering Joburg’s Turnaround”, wat onlangs bekend gemaak is, het City Power se bedryfstekort teen 2025 R4,3 miljard beloop, terwyl sy netto interne oortrokke rekening by die stad teen 31 Maart 2026 tot R19,1 miljard gestyg het.
Ann Bernstein, die direkteur van die CDE, lewer ’n pleidooi in die verslag dat enkele doelgerigte stappe in die regte volgorde gedoen word: “Stabiliseer leierskap, beveilig die kontant, stop die bloeiery en hou die ligte aan; vestig ordelikheid sonder skroom en van kritieke belang: dui aan waar die mense en geld vandaan gaan kom.”
Wayne Duvenage, uitvoerende hoof van Outa, sê Johannesburg is nie noodwendig verby die punt van herstel nie.
Hy vergelyk die moontlikheid van ’n herstel met stede wat in oorloë verwoes is en later herbou is. Volgens hom is die voorwaarde dat die stad anders bestuur moet word – met ’n fokus op dienslewering, professionele bestuur, die uitskakeling van korrupte netwerke en die behoorlike besteding van elke rand wat ingevorder word.
“Ek glo Johannesburg kan reggemaak word,” het hy gesê.
Vir Duvenage lê die oplossing uiteindelik in die manier waarop die stad bestuur word. Hy sê ’n regering wat daarop fokus om die stad in die belang van sy inwoners te bestuur, kan die stelsels en prosesse wat nie werk nie, verander en korrupte netwerke takel.
Hy meen ook die stad se huidige inkomste is nie noodwendig onvoldoende om herstel moontlik te maak nie. Die uitdaging is eerder hoe daardie geld bestuur en bestee word.
Die nuwe finansiële afbakening gee City Power nou ten minste ’n duideliker geldstroom, maar dit skep ook ’n nuwe toets.
As die 70% vinniger en meer voorspelbaar by City Power uitkom, sal inwoners uiteindelik wil weet wat daarmee gebeur. Die afbakening kan dus die begin van ’n nuwe hoofstuk wees.
- Lees die volledige artikel oor Johannesburg se kragkrisis in Die Papier, wat nou op die rakke is.
- Huisaflewering is ook beskikbaar deur On the Dot te e-pos by diepapierintekening@onthedot.co.za of te bel by 087 353 2191.
- ’n Elektroniese koerant kan ook gekoop word by op novanews.co.za/diepapier of by Magzter.
