Twee bewaringsorganisasies beroep hulle tans op die Konstitusionele Hof in ’n poging om ’n waterlisensie, wat dr. Sean Phillips, die direkteur-generaal van water en sanitasie, in ’n waterryke bewaarde gebied in Mpumalanga aan ’n Indiese steenkoolmaatskappy toegeken het, tersyde gestel te kry.
Die Trust vir Bedreigde Spesies (EWT) en die Federasie vir ’n Volhoubare Omgewing (FSE) is reeds byna 14 jaar in ’n stryd met die owerheid gewikkel om Mabola, waar groot riviere ontspring, uit die hande van Atha Afrika (nou Uthaka) te hou.
Die organisasies beweer dit is in die belang van huidige en toekomstige geslagte dat die land se waterbronne teen bedrywighede wat dit kan vernietig en besoedel, beskerm word.
Hulle beklemtoon dat hierdie saak deur die Konstitusionele Hof besleg moet word, omdat die Departement van Water en Sanitasie die plig het om die land se waterbronne te beskerm en dat dit ’n fout was om ’n waterlisensie aan ’n steenkoolmynmaatskappy uit te reik.
Uthaka sê in hofstukke dat hy reeds $54 miljoen in dié projek belê het en alle goedkeurings van die staat ontvang het.
Die mynmaatskappy het op 7 Julie 2016 ’n waterlisensie vir sy Yzermyn ontvang. Die waterlisensie is destyds deur Nolwazi Gasa, die waarnemende direkteur-generaal, uitgereik.
Yzermyn sal ’n ondergrondse myn wees en jaarliks 2,2 miljoen ton steenkool produseer.
- Lees die volledige artikel oor dié kwessie in Die Papier, wat nou op die rakke is.
- Huisaflewering is ook beskikbaar deur On the Dot te e-pos by diepapierintekening@onthedot.co.za of te bel by 087 353 2191.
- ’n Elektroniese koerant kan ook gekoop word by op novanews.co.za/diepapier of by Magzter.
