Dís waarom al hoe meer skote klap

Volgens dr. Johan Burger, ’n oud-polisie generaal en misdaadontleder, kan Suid-Afrika se geskiedenis van gewapende konflik wel ’n rol speel in massaskietvoorvalle.

Hy sê baie Suid-Afrikaners uit die era voor 1994 is deeglik opgelei om plofstof en vuurwapens – wat aanvalsgewere insluit – te gebruik. “Baie van daardie kennis en kundigheid word nou aangewend in die pleeg van misdade soos transitorooftogte.”

Wapens word ook nie net by gewone Suid-Afrikaners gesteel nie. Sowel Burger as Julian Rademeyer, senior adviseur by die Global Initiative Against Transnational Organised Crime (GI-TOC), sê vuurwapens wat by lede van die polisie of sekuriteitsmaatskappye gesteel word, is ’n groot kopseer.

Die SAPD se eie syfers toon dat 524 polisievuurwapens in die 2024/’25-boekjaar gesteel is en 48 weggeraak het. In 2025/’26 is 403 polisielede se vuurwapens gesteel, en 34 het verdwyn.

“Mens hoor egter nooit dat daar daadwerklik hierteen opgetree word nie,” sê Rademeyer.

Die waarnemende minister van polisie, Firoz Cachalia, het in April vanjaar in ’n geskrewe antwoord in die Parlement erken dat 154 vuurwapens wat aan die polisie behoort het, tydens misdaadoperasies teruggekry is. Nog 204 vuurwapens van sekuriteitsmaatskappye is ook so opgespoor.

Volgens Burger is daar ’n “feitlik onuitputlike bron” van vuurwapens waarmee misdaad gepleeg kan word, wat die sg. Prinsloo-vuurwapens insluit.

Sowat 2 000 vuurwapens wat vernietig moes word, is tussen 2006 en 2015 deur kol. Christiaan Prinsloo en kol. David Naidoo aan veral bendeleiers op die Kaapse Vlakte verkoop.

Volgens ’n 2023-verklaring van Gun Free South Africa is dié vuurwapens sedert 2016 – volgens die SAPD se eie rekords – in minstens 1 066 moorde gebruik is. Onder die slagoffers was 187 kinders.

Rademeyer sê militêre wapens uit Lesotho en Namibië is ook al in Suid-Afrika gevind.

Julian Rademeyer

Aanvalle se doel

Rademeyer sê aanvalle dien meer as een doel. “Dit kan wees om die gemeenskap te terroriseer, om as waarskuwing te dien vir moontlike opponente, of selfs om die plaaslike polisie te intimideer.”

Hy sê hoewel die polisie dikwels onder kwaai kritiek deurloop, kan hy verstaan dat die lede van ’n klein polisiestasie in ’n afgeleë gebied nie noodwendig kan ingryp nie. “Wat kan een of twee polisiemanne by ’n plaaslike stasie doen teen agt swaar gewapende aanvallers? Hulle moet wag vir versterkings, wat dalk nie eers opdaag nie.”

Boonop kan polisielede en hul gesinne ook teikens word, sou hulle ingryp.

Dr. Gérard Labuschagne, ’n kliniese sielkundige en voormalige hoof van die polisie se ondersoekende sielkunde-eenheid, stem saam. Hy wys ook op die gebrekkige polisiehulpbronne by baie plaaslike polisiestasies. “Hulle het dikwels een R4-geweer met een magasyn tussen twee lede. Soms is daar ook net een werkende patrollievoertuig per skof beskikbaar.”


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos