Die Griekwas het hul goeie rekord teen die Leeus voortgesit met ’n 31-19-oorwinning Saterdagmiddag in Kimberley in die vierde ronde van die Currie Cup.
Albei spanne het voor die kragmeting twee van hul vorige drie wedstryde gewen, terwyl die Griekwas verlede jaar ook met 27-25 teen die Leeus geseëvier het.
Die Griekwas het vroeg die voortou geneem toe Gurshwin Wehr die eerste drie van die wedstryd gedruk het. Dylan Maart het kort daarna ook ’n drie gedruk, maar albei doelskoppe is gemis. George Whitehead het wel met ’n strafskop geslaag om die Griekwas se voorsprong verder uit te bou.
Die Leeus het teruggeslaan toe Thando Biyela ’n drie gedruk het, met Sam Francis wat die doelskop oorgeklits het. Die Griekwas het egter teen rustyd met 13-7 voorgeloop.
Whitehead het kort ná rustyd weer met ’n strafskop geslaag voordat Janus Venter die Griekwas se derde drie gedruk het. Die doelskop is egter weer gemis, wat beteken het dat die Griekwas reeds ses punte met hul skopwerk laat glip het.
Bobby Alexander het daarna die Griekwas se vierde drie gedruk, waarna Whitehead uiteindelik die doelskop oorgeklits het.
Zane Bester is vervolgens met ’n geelkaart afgestuur, waarna die Leeus die agterstand verklein het toe Jarod Cairns ’n drie gedruk het. Sam Francis het die doelskop suksesvol oorgeklits om die telling op 28-14 te bring.
Die Griekwas het egter aangehou druk en George Whitehead het met nog ’n suksesvolle strafskop drie punte by die tuisspan se telling gevoeg.
Die Leeus het geweier om tou op te gooi en die 20-jarige Exauce Tshiamala het in die slotfase die besoekers se laaste drie van die wedstryd gedruk, waarmee die eindtelling op 31-19 te staan gekom het.

